Gholf saam met Corrie Sanders
THABAZIMBI – Verlede Saterdag se slagspel was ‘n taai stryd soos die tellings dan ook aandui. Billy Pring tree as wenner uit die stryd met ‘n net 69. Tiaan Bronkhorst en R Katz was kort op sy hakke met 71 en Kobus Robbertse en Bernie Gous met 75 was ook daar. Die gholf kenners is van mening dat daar net twee werklike formate in gholf is, naamlik slagspel en putjiespel. Al die ander soorte van spel het maar ontwikkel om die spel te bespoedig en om dit vir meer spelers aangenaam te maak. Daar is dus by ons klub die eerste Saterdag van elke maand slagspel en dan word daar ook elke jaar ‘n indiwiduele en pare putjiespel reeks gespeel.
Saterdag 10 Oktober kry Thabazimbi Gholfklub besoek van 42 spelers wat Corrie Sanders saambring. Plaaslike spelers kan ook die dag speel in ‘n beterbal kompetisie.
Saterdag 17 Oktober gaan dit weer Liga wees en die 24ste bied die NG Kerk ‘n groot borgdag aan.
Die baie gewilde en goed ondersteunde Pick n Pay Sonsakker met die Jolee gelukkige trekking word nog steeds elke Woensdag gespeel.
Van die gereelde spelers het die afgelope tyd bietjie teëspoed gehad maar dit gaan alweer beter met die meeste. Hans Human (heupvervanging) begin alweer speel, al oefen hy so skelm-skelm alleen. Daan Lottering (nekopersasie) het ook al so stilletjies al ‘n oefendraai geloop. Ons wag nou net om te sien wanneer Pietie Terblanche (rugoperasie) en Jakkie van der Wateren (skoueropersie) weer sal kan speel. Eddie Williams het sodanig herstel dat hy ook weer as baanmeester kan begin.
Die gholfkarretjies word nog steeds goed gebruik. Dit is net interessant om te sien hoe baie sterk gesonde jong spelers ry terwyl die ouer spelers maar moet stap. Laat mens wonder.