General

Dra ‘n bandana en steun leukemielyers

THABAZIMBI – Nasionale Bandanadag is op Woensdag 14 Oktober en die hele Thabazimbi word genooi om bandanas, ter ondersteuning van bloedkankerlyers, op daardie dag te dra. Die leuse vir Bandanadag is “Share a little, save a life”.
Die volle opbrengs van die verkope van die bandanas, wat by Pick n Pay beskikbaar is teen R15 elk, gaan aan die Sunflower Fund. Hierdie fondsinsamelings-organisasie is in die lewe geroep deur die ouers van kinders wat hul stryd teen kanker verloor het.
Die kopers van bandanas se bydraes gaan spesifiek vir die Sunflower Fund, wie se doel dit is om beenmurgskenkers te vind. Vir baie leukemie-pasiënte is die enigste kans op oorlewing ‘n beenmurg-oorplanting. Die kanse om ‘n geskikte skenker vir só ‘n pasiënt te vind is 1 uit 100 000. Pasiënte wat uit hierdie fonds sal voordeel trek is lyers aan leukemie, aplastiese anemie en beenmurgtekort.
Almal in Thabazimbi en omstreke word aangemoedig om op 14 Oktober ‘n bandana te dra, of dit skool of werk toe is om ondersteuning te betoon teen almal wat ‘n stryd teen leukemie voer. Tydens die behandeling en voorbereiding vir ‘n beenmurgoorplanting ondervind pasiënte haarverlies en dra baie van hulle bandanas. Die publiek sal hul solidariteit, emosionele en morele steun betoon met die dra van bandanas.