‘SA geen Zimbabwe’
Hy is oortuig dat ten minste vir die volgende vyf jaar daar nie ‘n herhaling van die Zimbabwe-grondkwessie in Suid-Afrika sal wees nie, sê dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Hy het by Landbouweekblad en AMT se vooruitskouingskonferensie in Pretoria gesê dit beteken nie dat daar nie steeds groot onsekerhede en emosionele debatte oor grond in 2010 sal wees nie. “Vir die eerste keer blyk dit egter of ekonomiese werklikhede meer gewig dra as die ideologieë en onrealistiese teorieë van die verlede.”
Mulder sê die feit dat die Regering erken dat 49% van projekte op grond wat oorgedra is misluk het ,is deel van ‘n nuwe eerlikheid en realisme. Ongeag pres. Jacob Zuma se opmerking dat die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper nie werk nie is die Regering se debatte oor grond en die bereikbaarheid van teikens nou meer realisties as in die verlede.
– www.landbou.com