Oktober Fees
Elana Greyling
Die Bosvelders doen dit vanjaar in Duits met ‘n regte egte Oktober Fest wat van 2 tot 3 Oktober by Jan se Gat net buite Lephalale op die ou Thabazimbi-pad aangebied gaan word. Vrydag (vandag) open die hekke om 14:00 met ‘n Duitse biertuin, Karaoke-kompetisie en gaskunstenaar, Johan Brummer.
Saterdag 3 Oktober is vol gesinspret en avontuuraktiwiteite. Die hekke open reeds om 6:00 met die Boerperd uithouresies wat vroeg wegspring vir ‘n 13 km rit. Bergfietse en padfietse kan deelneem aan ‘n ‘brekfis-run’. Vir veldfietse en vierwiel-fietse is daar interessante berg- en rivierbane om hul vernuf op te toets. Die 4×4’s kan inskryf vir ‘n ‘extreme’-uitdaging wat nie vir die Bang Janne is nie. Intussen is daar boogskiet, ‘paint ball’, bergklim met BRAVO Jeug en kindervermaak aangebied deur LA Sport. Perde resies sal deur die loop van die dag plaasvind.
Die Duitse Koffie-tuin bied eg Duitse gebak en interessante praatjies gedurende die oggend aan. Die bekende sanger, akteur en kos-ghoeroe, Lochner de Kock kom gesels oor Wildsvleisgeregte. Sanette de Klerk van Obaro praat ook oor tuinmaak in die Bosveld.
Die Duitse Biertuin bied yskoue bier uit die tapvat aan met klanke van ‘n eg Duitse Oempa-orkes, bierdrinkkompetisies, spyker-inslaan en karaoke.
Die Fees beloof beslis om groot pret te wees: “Gesundheit!”
Navrae kan gerig word aan Jan Eckard by 082 507 1467.