Gevolge van die finansiering van taxi`s deur ABSA
Die ooreenkoms tussen ABSA Bank se voertuigfinansieringsafdeling en die Nywerheidsontwikkelingskoöperasie (NOK) lyk op die oog af na ‘n sinvolle benadering tot werkskepping. ABSA en die NOK het wel ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat die toevoeging van meer taxi’s tot ons paaie nie meer lewens sal vernietig nie. Daarom eis die VF Plus dat ABSA verseker dat elke koper as deel van die finansiering deur ‘n intensiewe kursus gaan wat hulle burgerlike verantwoordelikheid teenoor ander padverbruikers drasties sal opskerp.
Volgens die dagkoerant, Beeld (‘Taxibedryf kry Hupstoot’ – 30/09/2009), het die NOK ‘n ooreenkoms met ABSA aangegaan waarvolgens voornemende kopers van taxi’s aansoek kan doen om finansiering vir hulle voertuie teen ‘n maksimum koers van prima plus 4%. Dit is gedoen ten einde finansiering vir voornemende taxi-eienaars en -operateurs te vergemaklik en so werkskepping in die hand te werk.
Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, is die inisiatief in isolasie beskou belowend vir werkloses, maar meer wyd beoordeel is daar ‘n paar ongemaklike aspekte wat aangespreek moet word:
• Suid-Afrika se paaie is alreeds oorlaai met taxi’s waarvan baie bestuurders, indien nie die meeste, glad nie padreëls gehoorsaam en nie beskou kan word as verantwoordelike bestuurders nie. Volgens adv. Alberts is die tragiese geval van Bernadine Kruger, wat letterlik deur ‘n taxibestuurder vermoor is deur sy voertuig te gebruik as moordinstrument, tekenend van hierdie toedrag van sake op ons paaie. Aangesien die NOK sekere waarborge aan ABSA gegee het rakende die finansiering van hierdie voertuie en daardie waarborge gerugsteun word deur belastingbetalers se geld, is dit billik om aan ABSA en die NOK se adres die navraag te rig hoe hulle sal verseker dat elke nuwe taxi-eienaar behoorlik opgelei gaan word in die bedryf van ‘n taxivoertuig as besigheidsinstrument. ABSA en die NOK het ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat die toevoeging van meer taxi’s tot ons paaie nie meer lewens sal vernietig nie en daarom eis die VF Plus dat hulle verseker dat elke koper deur ‘n intensiewe kursus gaan wat hulle burgerlike verantwoordelikheid teenoor ander padverbruikers drasties sal opskerp.
• Tweedens is dit kommerwekkend dat ABSA se finansiering van die voertuie onderskraag word deur ‘n 50%-waarborg vanaf die NOK, wat uiteindelik beteken die belastingbetaler staan pa vir ABSA se finansieringsbesluite. ABSA kan dus verliese in hierdie projek ly van tot 50% op die belastingbetaler se rekening. Al is die NOK self-finansierend van aard, is die staat en dus die belastingbetaler effektief die eienaars van die NOK. Die skema klink gevaarlik na aan die sub-prima huisleningsooreenkoms wat Amerikaanse banke gehad het met Amerikaanse regeringsinstansies soos Freddie Mac – net nie so groot in omvang nie. Belastingbetalers se geld word eenvoudig gebruik om banke se swak oordeel te finansier. Daarom sal die VF Plus graag wil weet hoe ABSA swak besigheidsbesluite sal teëwerk in die lig van die ruim 50% versekering wat hulle ontvang van die alreeds armer belastingbetaler?
• Laastens wil die VF Plus van die NOK weet waarom hierdie transaksie juis met ABSA beklink is? In die lig daarvan dat ABSA se hoof uitvoerende beampte, Maria Ramos, sterk ANC-bande het kom die transaksie verdag voor. Die VF Plus sal wil verseker dat die kader-ontplooiing en verdeling van voordele onder ‘n klein bende begunstigdes, soos wat dit gedy het onder die Mbeki-bewind, nou ‘n einde sal kry. Daarom moet beide ABSA en die NOK verduidelik hoe die ooreenkoms tot stand gekom het.
Dit is tyd dat besighede ook hulle groter sosiale verantwoordelikhede begin nakom en dit nie in die wind slaan wanneer groot geld ter sprake is nie. Daarom sal die VF Plus aanhou ongemaklike vrae stel aan besighede en oor transaksies waar als nie op eerste sigwaarde pluis lyk nie. Die VF Plus sal aggressief voortgaan om sy waghond-funksie te vervul.