Mites oor vlermuise
Daleen van Manen – Beeld argief
Vlermuise maak nié nes in ’n mens se hare nie, drink nié bloed nie en byt slegs as daar met hulle gepeuter word. Hulle is ook nie blind nie en glad nie ‘n knaagdier nie. Meeste van hulle is insekvreters of vrugtevreters. Boonop kan dié gediertes help om van een van die grootste peste, muskiete, ontslae te raak.“Daar is soveel mites oor vlermuise dat hulle in die algemeen as ’n pes beskou word. Bitter min mense besef dié waardevolle rol van die vlermuis in die natuur,” sê Jonathan Haw van EcoSolutions. Hy installeer die afgelope twee jaar vlermuishuise by wonings om muskiet- en ander insekplae te beheer. “Elke huis behoort ’n vlermuishuis of -hotel te hê. ’n Enkele vlermuis vreet die helfte van sy liggaamsgewig aan muskiete per nag. Ongeveer 150 vlermuise sal in een vlermuishuis intrek en tot 60 000 insekte per nag vreet.” Jonathan het die projek begin om ’n omgewingsvriendelike oplossing vir ’n omgewingprobleem te vind en mense se bygelowe oor vlermuise te besweer. Die vlermuishuis word teen ’n noordwestelike muur onder die dakkap van die huis vasgemaak terwyl ’n vlermuishotel op ’n paal in die tuin opgerig word. Die vlermuishuis het namiddagson nodig vir die vlermuise om warm te word vir die nag. En hoe kry jy die vlermuise uit jou huis se dak in die vlermuishuis of -hotel? “Die grootste probleem is om die ingang na die dak te kry. “Ons plaas bloot ’n plastiektonnel, soos ’n broodsakkie wat aan beide kante oop is, voor die ingang. Die vlermuise kan uit, maar nie terug nie en hulle sal ’n ander blyplek in die direkte omgewing soek. “Vlermuise is eintlik insekpolisie. ’n Vlermuis maak geluide met ’n hoë toon wat van voorwerpe terug-eggo. Klanke word deur die vibrasies van ’n voorwerp veroorsaak. As iets vibreer, laat dit die omringende lug ook vibreer. Hierdie trillings beweeg as golwe in alle rigtings uitwaarts en word deur die brein onderskep, wat hulle as klank interpreteer. Die aantal kere dat ’n vibrasie homself elke sekonde herhaal, staan bekend as die frekwensie. Die hertz (Hz) is die eenheid waarin frekwensie gemeet word. Een hertz staan gelyk aan een siklus per sekonde. Mense kan klanke met ’n frekwensie van tussen sowat 20 en 20.000 Hz hoor. Enigiets daaronder word as ’n vibrasie aangevoel en enigiets bokant dit word supersonies genoem. Baie diere, daarenteen, kan frekwensies ver bokant dit hoor. Motte kan frekwensies van tot 240 000 siklusse per sekonde opvang en die dolfyn ’n verbysterende 280 000…Die geluide van vlermuise haal tot sowat 200 000 hertz (siklusse per sekonde). Dis is ver bokant die perk van menslike gehoor. ’n Vlermuis in vlug kan onderskei tussen ’n boom, jou kop en ’n muskiet. Hulle vreet vlieë, besies, kakkerlakke en muskiete en kan tot 30 jaar oud word. “Vlermuise bestuif bome, blomme en kaktusse en versprei sade. “Volgens wetenskaplike navorsing bevat vlermuismis selfs sekere mikro-organismes wat op mediese gebied voordelig vir mense is,” sê hy. Vergeet dus van vooroordele oor dié gevleuelde soogdiere, en as die muskiete weer byt, kry eerder ’n vlermuishuis as om die muskietgif nader te trek.