KunsteGrot bied nou ook ‘n Kunsmark aan
THABAZIMBI – Nog ‘n faset word by die aktiwiteite van die KunsteGrot gevoeg met die aanbieding van ‘n maandelikse Kunstemark.
Behalwe vir die dans-en dramaklasse en die maandelikse kunstenaarsoptredes, gaan daar nou elke eerste Saterdag van die maand ‘n heerlike kunste-oggend aangebied word, waar uitstallers se outentieke ware besigtig en gekoop kan word. Daar sal ‘n teetuin wees met die heerlikste verversings om die innerlike ook te versterk.
Diegene wat handige hande het en pragtige dinge vervaardig, kan hulle gerus kontak en dalk deel word van dié grootse poging om nog iets spesiaals vir ons mense aan te bied. Onthou net, dis nie ‘n vlooimark nie. Die eerste beplande datum is Saterdag, 7 November. Dit is die ideale geleentheid om solank te kom kyk vir kersgeskenke.
Daar is nog net ‘n paar plekke beskikbaar vir die optrede van NaviRedd op 24 Oktober. Bespreek maar vinnig indien u hierdie manne met die ongelooflike stemme wil ervaar. Die besprekings vir Mathys Roets op 25 November het reeds geopen – doen uself ‘n guns en bespreek gou!
Vir alle navrae aangaande die Kunsmark asook vir teaterbesprekings, kontak Rita by 083 7448559