Besige tydjie vir gholfspelers

THABAZIMBI – Verlede Saterdag se gholf was Indiwiduele Stableford. Daar is goeie spel gelewer as na die punte gekyk word. F Cilliers met 45 punte was die wenner. Derek Torlage en Alta Venter albei met 43 punte en R Conrad 41 was die ander wenners.
Die ligaspan het ook op Brits teen Mogol gespeel en moes ongelukkig die knie buig. Mogol is tans die voorlopers in die liga, met Amandelbult tweede en Thabazimbi derde. Daar is blykbaar vanjaar ‘n probleem om spelers te kry om liga te speel. Die Bosveld Liga was nog al die jare vir ons klub ‘n belangrike kompetisie en die lede wat hulle bereidwilligheid aan die begin van die jaar op ‘n lys bevestig het word aangemoedig om te speel as hulle gekies word.
Hierdie naweek is dit die Aerospace Bielie van die Bosveld wat oor twee dae, Saterdag en Sondag, beslis gaan word. Daar is groot pryse en prestige op die spel, en daar gaan ‘n vol veld wees. Afgesien van die pryse is daar ook die mooi trofeë wat die wenners omhoog kan hou.
Die Waterberg Sages was bevoorreg om onlangs teen ‘n baie spesiale bedrag op die mooi baan van Euphoria te speel. Daar is nou ook die geleentheid om teen ‘n baie groot afslag op Donderdag 15 Oktober op Zebula te speel. Lede wat belangstel om van hierdie aanbod gebruik te maak moet asseblief voor Donderdag 1 Oktober hulle name deurgee aan Vollie (083 507-3148)
Met die draai van die seisoen is die baan tans in ‘n uitstekende toestand. Johan Barnard wat die taak op sy skouers geneem het met Eddie Williams se siekte is hard aan die werk. Eddie is oor die ergste en sterk tans by die huis aan.
Daar is blykbaar alweer ‘n nuwe voorgee-stelsel op pad. Die stelsel gaan ook deur ‘n nuwe firma berdryf word. Mens hoop nie dat dit ook ekstra koste vir die spelers gaan beteken nie.