General

Plaaslike omgewing opgeoffer vir ontwikkeling in Gauteng

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Te midde van groot ongelukkigheid landwyd en wêreldwyd oor die besoedelingsgevaar wat steenkoolkragsentrales inhou, is Suid-Afrika se kragvoorsiener, Eskom, volstoom aan die gang om alle die moontlik steenkoolreserwes in Suid-Afrika te ontgin en steenkoolkragsentrales op te rig.
Daar word nie beplan om oor te slaan na alternatiewe kragbronne voor 2025 nie en intussen is die land se inwoners besig om te hik en betaal vir die ontwikkeling van die steenkoolopsie aangesien geen buitelandse instansies bereid is om hierdie omgewingsonsensitiewe benaderings te befonds nie.
Eskom beoog om deur die breedte van die hele Limpopo steenkoolkragsentrales op te rig, een waarvan in die Mapungubwe Nasionale Park teen die Limpoporivier voorkom en ‘n ander natuurlik in Steenbokpan en Lephalale. Voortdurend word dit teen beswaarmakers se koppe gegooi dat hierdie ontwikkelings tot die voordeel van die hele land strek, omdat elektrisiteit so uiters noodsaaklik is – ‘n feit waarvan inwoners maar alte bewus was gedurende die beurtkrag-projek in 2008.
Die ontstellende kwessie tans is dat hoewel daar heelwat buitelandse druk op Suid-Afrika is om af te sien van die steenkoolkragsentrales, blyk dit dat inwoners dit maar gelate aanvaar.
Die steenkool wat in die noordelike Limpopo-velde voorkom is van swak gehalte en dus laat dit ‘n baie groter koolstof-voetspoor as betergraad steenkool wanneer dit verbrand word. Eskom het reeds erken dat as hulle gedwing word om besoedeling van die steenkoolkragsentrales tot die minimum te beperk, dit goedkoper sou wees om alternatiewe kragbronne te ontwikkel. Die ander dilemma is dat daar soveel water benodig word vir die suiwering van gasse, dat skoner lug weer waarskynlik minder water sou beteken. ‘n Tipe Catch 22-situasie dus.
So waarom laat Suid-Afrikaners dit toe? Waarom staan hulle nie as een man op en dwing die regering om alternatiewe te soek vir hierdie projekte nie.
Die finale omgewingsverslag vir die oprig van ses 765kV lyne wat die krag sal lei van kragsentrales in Steenbokpan (Coal 3 en 4), Ellisras (Medupi en Matimba) en Botswana (Mmamabula) het onlangs verskyn, met aanbevelings oor die aantal korridors, die tipe lyne wat gebruik sal word, sowel as die roetes.
Die verslag is ter insae beskikbaar by die Thabazimbi Biblioteek en kommentaar en insette kan gelewer word tot 25 September.
Waar eers oorweeg is om die ses kraglyne in drie korridors op te stel het die konsultante aanbeveel, in ‘n poging om die voetspoor van die projek te verklein, dat die lyne in twee korridors (met drie lyne elk) opgestel word. Beide aanbevole korridors loop wes van Thabazimbi verby.
Daar word ook aanbeveel dat al die lyne nie 765kV wisselstroomlyne sal wees nie. ‘n Verdere aanbeveling is dat die lyne parallel sal loop met bestaande versteurings of korridors. Vir ‘n gedeelte van die pad sal van die korridors dus saam of parallel loop met die 400kV-lyn wat tans deur die Thabazimbi-gebied loop asook parallel met, byvoorbeeld, spoornetlyne.
Daar word ook aanbeveel dat Eskom die moontlikheid ondersoek om twee van die 765kV wisselstroomlyne te vervang met óf 600kV óf 800kV gelykstroomlyne. Dit sal die kapasiteit om elektrisiteit te vervoer verhoog sonder om die aantal kraglyne te vermeerder in die toekoms.
Die tegnologie word egter nog ondersoek. Die gelykstroomlyne het egter ‘n groter magneetveld  en word hoër opgerig, maar is esteties meer aanvaarbaar. Een van die 765kV lyne word ook met ‘n 400kV-lyn vervang wat net tot by Mogwase sal loop. Die ander lyne gaan tot in Potchefstroom.
Faktore wat in ag geneem is by die kies van korridors was die hoeveelheid impak (ten opsigte van biodiversiteit, voëllewe, toerisme, visueel, ekonomiese bedrywighede) wat elke korridor op ‘n area sal hê. Die korridors met die minste impak is aanbeveel. Die voorkoms van rukwinde en tornados was een van die redes waarom die lyne verder wes voorkom, aangesien hierdie natuurverskynsel meer aan die oostekant van die studiegebied is.
Aan die einde van die verslag beveel die konsultante aan dat die kraglyne “belangrik is vir die toekomstige ekonomiese ontwikkeling van Gauteng en die gebiede aan die Wesrand, asook die land as geheel. Die beskouing is ook dat die negatiewe impak van die projek op die plaaslike omgewing in die studiegebied kleiner sal wees as die oorhoofse voordeel wat die land gebied word.”