General

Is daar oplossings vir Thaba se waterkwessie?

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Soos reeds dikwels vantevore in Die Kwêvoël berig is, is daar ‘n verskeidenheid faktore wat tot Thabazimbi se waterdilemma bydra. Hierdie kwessie geniet tans die toegewyde aandag van die munisipaliteit, maar dit sal ongelukkig tyd neem om maatreëls in plek te stel.
Vir die huidige blyk dit dat beide die pompe by die pompstasie optimaal funksioneer en ‘n bystandspomp sal in die nabye toekoms beskikbaar wees. Dit is tans besig om herstel te word. Die lyk ook asof, tussen die Magalieskonsessie en die boorgate, die watervoorsiening tans voldoende is.
Die probleme kom egter hoofsaaklik voor by die reservoirs. Van die ses bestaande reservoirs is die inlaat by slegs een (wat Regorogile bedien) aan die bopunt. Die ander vyf laat water in van onder af. Ipelegeng en Mmabane ontvang ook hul water direk van die hooftoevoerpyp af, in plaas daarvan dat hul netwerk aan die uitlaat gekoppel is, verduidelik Danie Stoltz, Siviele Koördineerder by die munisipaliteit.
Die gevolg van die verkeerde inlaat is dat water, soos dit ingepomp word, gebruik word en die reservoirs nooit die geleentheid kry om vol te word nie. As die reservoirs nie vol tap nie, is daar nooit genoeg druk in die uitlaatpyp om die areas wat verder en hoër geleë is, van water te voorsien nie. Die inwoners kry as’t ware nie ‘n gelyke kans tot die water nie en slegs diegene in die laerliggende gebiede, soos Uitbreidings 5, 6 en 8 het voltyds water.
Hierdie probleme geniet egter tans aandag. Pype is reeds beskikbaar vir die werk wat beplan word. ‘n Ander aspek, waaroor die munisipaliteit nie beheer het nie, is die afskakeling van krag by die pompstasie, wat dit nie moontlik maak om water in die reservoirs te pomp nie. Daar word gekyk om ‘n alternatiewe kabel te lê, maar toestemming sal eers van Kumba verkry moet word aangesien die kabel op myngrond gelê sal moet word.
Daar is ook die kwessie van die swart “teeragtige” stof wat in die water voorkom vanaf die boorgate. Hierdie water word gereeld getoets en is van goeie gehalte behalwe vir die hoë voorkoms van Mangaan en Manganesium in die water.
Wanneer daar aan die pype gewerk word, pak hierdie stof in die pyp aan en beland in die bufferreservoir wanneer die watertoevoer herstel word. Hierdie pype sal egter van skuurkleppe (scour valves) voorsien word, wat tegnici in staat sal stel om die “vuil water” eers uit te spoel voordat die water na die reservoir vloei, verduidelik Stoltz.