Sport

Gholfnuus

THABAZIMBI – Vlagspel is nie ‘n baie gereelde tipe van spel nie. Verlede Saterdag was dit egter die formaat en Christoph Penzhorn was die speler wat die vlaggie die verste kon dra.
Voor hom was dit Sarel Marais, Derek Torlage en Melanie Oberholzer wat die vlag geplant het. Christoph het ook die besondere prestasie gehad deur ‘n Arend op putjie No 1 aan te teken. Baie geluk, dit is ‘n groot prestasie verseker.
Saterdag 19 September speel ons manne weer Liga op Brits. Sterkte word hulle toegewens. Die groot byeenkoms is egter die naweek van Saterdag 26 en Sondag 27 September. Dit is dan die Bielie van die Bosveld wat gespeel gaan word. Die Bielie was aanvanklik net vir die spelers van die Bosveld Liga klubs maar het nou ontwikkel tot die Thabazimbi Ope. Dit gaan ‘n groot kompetisie wees met besondere pryse en strawwe mededinging. Die Senior mansspanne van Gauteng Noord gaan ook kom deelneem. Plaaslike spelers moet dus vroegtydig inskryf. Daar kan beide die twee dae gespeel word of ook enige een van die twee dae.
Die Sages het verlede Donderdag op Koro Creek gespeel. Die baan is met elke kompetisie in ‘n beter toestand en die manne wat daar was het die dag baie geniet. Hulle was veral beïndruk met die nuwe klubhuis. Hulle speel op 15 Oktober op Zebula en die name moet op die eerste Oktober ingegee word. Teen die prys waarvoor ons kan gaan speel sal almal seker wil gaan.
Ons is bly om te hoor dat Eddie Williams tans tuis aansterk. Daan Lottering is ook terug by die huis na sy operasie. Dit gaan goed met albei en ons is baie dankbaar vir die goeie nuus.