Verbod op vure na reusebrand in Rooiberg
Hennie Pauw
ROOIBERG – ‘n Algehele verbod op die maak van enige veldbrande is die afgelope week afgevaardig deur die Thabazimbiese Brandbeskermingsvereniging (TFPA). Dit volg op ‘n reusebrand wat Dinsdag en Woensdag op, onder andere, die Elandsberg Natuurreservaat en beoogde Meletse Gholflandgoed gewoed het. Die verbod duur tot die eerste reëns val.
Die brand het ontstaan nadat daar vermoedelik voorbrande gemaak is wat buite beheer geraak het. Groot gedeeltes van Elandsberg Natuurreservaat, asook ‘n vakansiehuis van een van die eienaars het afgebrand. Ook Meletse Gholflandgoed het baie skade opgedoen.
Die vakansiehuis, en dakke van buitegeboue, van dr Alan Kok in die Elandsberg Natuurreservaat, is deur die vuur verwoes. Die bome rondom chalets op Tembe Lodge (op die Nylstroompad) is afgesaag om te verhoed dat die grasdakke aan die brand slaan.
Dinsdagnag is daar dwarsdeur die nag gewerk om die vuur te beheer aan die suidefront. Die vuur, wat deur die wind aangeblaas is, het egter later weer opgevlam en aan twee fronte gebrand tot Woensdagaand laat.
Spanne uit verskeie oorde het bystand verleen met die brandbestrydingoperasie. Verdrag Polisiekollege het spanne gestuur om uit te help, Mabula Lodge het gehelp, plaaslike en brandbeskermingspanne van Bela-Bela het gehelp, sowel as spanne van Working on Fire (Marakele). Woensdagnag het Thabazimbi Brandweer daarin geslaag om die vuur op Tembe te help blus.
Teen Donderdagoggend was die brand pas onder beheer gebring en die omvang van die skade nog nie bepaal nie.
‘n Klag van brandstigting sal waarskynlik deur die polisie ondersoek word.
Buiten die huis op Elandsberg Natuurreservaat is heelwat skade aan die kleinwild (en moontlik grootwild) en infrastruktuur in die omgewing aangebring. Heinings het baie skade gely. Kragdrade, transformators, pompinstallasies, kabels en plastiese pyplyne by heelwat wonings sal vervang moet word.
Teen Woensdag het Eskom reeds begin met herstelwerk aan die hooflyne. Die hitte van die brand was so intens dat die teer in Eskompale vuurwarm geword het en omhulsels van kragdrade weggesmelt het, verduidelik Philip Nel, satellietleier van die Thabazimbiese Brandbeskermingsvereniging in Rooiberg.
Ironies genoeg is Rooiberg tans in die proses om hul kommunikasiestelsel te verbeter en Donderdag sou ‘n netwerk en radiokanaal ingestel word waarop alle lede kan inskakel. Dit sal die logistiese beplanning in tye van nood baie verbeter, sê inwoners, en het net te laat gekom (of die vuur te vroeg!).
Die gebrekkige kommunikasiestelsel met selfone en slegte radio-ontvangs in dié bergagtige deel het die beheer van hierdie vuur baie bemoeilik, sê Nel. Daar is egter skenkings bewillig vir die opstel van seinversterkers wat beter radioverbindings tot gevolg sal hê. ‘n Oproepkamer word ook binnekort op Rooiberg op die been gebring.
Volgens Nel is ander faktore wat die effektiewe hantering van die brand benadeel het, boere wat nie lede is van die TFPA nie. Gevolglik kan daar nie met grondeienaars kontak gemaak word en kommunikasiestelsels in plek gestel word nie. Toegang kan nie tot plase verkry word nie. Daar is dus geen hulp, en ‘n groot mate van onbetrokkenheid, by die vuurbestryding.
Daar is ook baie grondeienaars wat nie kennis dra van die bepalings van die wet nie en in gebreke gebly het om voorbrande en brandstroke te maak. Voorts is daar boere wat nie, soos wettiglik vereis word, bure betyds in kennis stel wanneer daar wel voorbrande gemaak word nie.
Die teensy van die situasie is egter ook waar, sê Nel. Daar is lede van die brandbeskermingsvereniging wat uit hul eie hulp aangebied het. Van hulle, sommige is slegs op besoek daar, het bystandspanne op die been gebring. Goeie bande met aangrensende brandbeskermingverenigings was ook van groot waarde.
Wildboere wie uitstekende brandvoorsorg getref het met nodige toerusting, brandpaaie en toegang, vergemaklik weer die beheer van wegholveldbrande en teenoor hulle is hy baie dankbaar.
Een van die probleme wat ondervind is dat nooddiensvoertuie nie toegang kan verkry tot plase nie, as gevolg van die grootte van die hekke. Volgens Renette Lategan, van Thabazimbi Rampbestuur, moet grondeienaars hierdie faktore in ag neem wanneer toegang tot die plase beplan word.