Solidariteit Helpende Hand skep werk

Solidariteit Helpende Hand het vandeesweek ‘n nuwe werkskeppingsprojek van stapel gestuur. Die projek, Bewaar ons Erfenis, word nasionaal deur Helpende Hand-takke uitgerol en die eerste aksie was die skoonmaak van die Totius-standbeeld in Potchefstroom. Nog Afrikaner-monumente is in die dorp deur verarmde Afrikaners as deel van hierdie projek skoongemaak en versorg.
Die volgende projek is om onkruid in die konsentrasiekampkerkhof uit te trek en die grafte skoon te maak.
“Daar is ‘n dieper armoede onder Afrikaners as net ‘n maatskaplike armoede. Dit is geestelike en kulturele armoede. Wanneer hierdie twee armoedes suksesvol aangepak word, kan ‘n verarmde Afrikaner homself/haarself losbreek van die armoedesirkel. Met die skoonmaak van monumente en ander waardevolle en geskiedkundige plekke word die ekonomiese en kulturele armoedekwessie prakties aangepak,” verduidelik dr Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Solidariteit Helpende Hand leef hierdie benadering prakties uit deur werkskeppingsprojekte wat op die bewaring van die Afrikaner se kulturele erfenis gerig is.
Volgens dr Langner is dit ook tyd dat die Afrikaner groter verantwoordelikheid vir die bewaring en instandhouding van sy eie kulturele erfenis moet neem. “Ons kan nie verwag dat die staat dit vír ons moet doen, as ons nie bereid is om self moue op te rol en prakties ‘n verskil te maak nie,” sê hy. “Die mense wat by die projek betrokke raak, geniet dit ongelooflik baie. In plaas daarvan dat die persoon op straat staan en bedel, het hy ‘n gevoel van trots omdat hy ‘n waardevolle bydra kan lewer.”
Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak Solidariteit Helpende Hand by 0861 25 24 23 of e-pos helpendehand@solidariteit.co.za