Passiewe vangkrale lei nuwe era in vir wildboere
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Passiewe vangkrale stel wildboere in staat om self wild te vang en baie meer selektief te werk te gaan ten opsigte van die wild wat gevang word.
Dit was een van die hoofboodskappe by die onlangse vergadering van die Thabazimbi Wildbelangegroep in Sentrum op Woensdag 26 Augustus op die plaas van Leon en Selma van der Watt. Die hoofspreker was dr Wilhelm Schack.
Volgens dr Schack kan ‘n meer bekostigbare en selektiewe manier van wildvang ‘n nuwe era inlei wat ‘n “kultuurverandering” in die wildbedryf teweeg mag bring. Wildboere kan, onder meer, ‘n reusebydrae maak tot proteïenverskaffing aan Afrika. Die goedkoper vang en vervoer van wild bring ook ‘n groter finansiële lewensvatbaarheid vir die bedryf. Natuurlik wil die wildvangers hom kruisig, sê Schack.
Daar is egter baie om te leer en elke spesie se gedrag verskil. Passiewe vang van wild is ‘n tydsame proses, van die opstel van die kraal tot die kondisionering van die diere. As dit goed hanteer word, word min stres op die wild geplaas en min verliese vind plaas.
Die vangkraal, wat gewoonlik vir ‘n ruk in die veld is sodat diere daaraan gewoond raak, word naby ‘n water-, voer of lekpunt opgestel met pale, kabels, gordyne en hek. Dit is min of meer tregtervormig met soveel as moontlik natuurlike plantegroei binne en gordyne en afskortings binne die gang. Met die nodige afskorting kan die diere gesorteer word in, byvoorbeeld, manlike en vroulike groepe en ongewensde individue kan losgelaat word. Dit is meestal beter om manlike en vroulike diere apart te vervoer.
Die beginsels is om elke dier so vinnig moontlik in ‘n klein donker plek te besorg, te kalmeer (met nodige middels), te sorteer en in ‘n spesifieke rigting te laat beweeg.
Vangkrale moet só ontwerp word dat hanteerders die wild van bo-af kan besigtig en hanteer.
Vir enige verdere navrae oor die Thabazimbi Wildbelangegroep kan die sekretaresse, Jenny Rossouw, by Ekowild geskakel word op 014 777 1814.