Ons lesers skryf – Geen water by nuwe uitbreiding
Geen water by nuwe uitbreiding
Gedurende 2009 het ons ‘n huis gekoop in Uitbreiding 37, verby Obaro, agter die Eskom store.
Ons het op 27 Junie 2009 by hierdie huis ingetrek en vir die eerste 5 tot 6 weke water met wonderlike waterdruk in ons huis gehad. Vanaf 7 Augustus het die water egter soggens begin verdwyn.
Met ons eerste navraag by die munisipaliteit is daar tegnici uitgestuur om ondersoek in te stel – sonder enige sukses. ’n Dag later is ons in kennis gestel dat daar ’n probleem met die waterpompe by die pompstasie was en probleme ondervind is om die opgaardam vol te maak en vol te hou.
Die probleem het egter voortgeduur en daagliks tussen 8 uur soggens en 8 uur saans was ons (en al die ander inwoners) sonder water.
Die munisipaliteit het verduidelik dat die opgaardamme nie vol gepomp kan word nie, aangesien daar net een werkende pomp was. Inwoners van die dorp maak blykbaar hul tuine nat en swembaddens vol en die probleem kom slegs in die lente en somer maande voor, nie gedurende die wintermaande nie.
Dié toedrag van sake duur nou reeds vir vier weke. Ons kla feitlik daagliks by verskillende persone in die munisipaliteit, maar niemand kon ons nog help nie.
Al die moontlik oplossings, soos ’n nuwe of ekstra pyplyn, nuwe pompe by die pompstasie, nuwe opgaardamme en ekstra boorgate is alles langtermynprojekte en gaan nie die probleem dadelik aanspreek nie. Daar word nou daagliks water aan ons voorsien met ’n waterkar.
Ons was genoodsaak om ’n watertenk en drukpomp aan te koop en aan die waterstelsel van die huis te koppel om wasgoed te was en water te hê vir bad ensovoorts. Ons nuwe tuin kry egter baie swaar.
Die verkoper, eiendomsagent deur wie ons die huis gekoop het en ontwikkelaar het basies hulle skouers opgetrek. Die agent en verkoper het enige kennis van probleme ontken en die ontwikkelaar het gesê dat alle ingenieursertifikate afgeteken was en dat die probleem dus by die stadsraad is en nie by die ontwikkeling nie.
Slegs vyf huise word bewoon in hierdie uitbreiding. Volgens die “ouer” inwoners kom hierdie probleem voor reeds vandat hulle daar ingetrek het. Twee van die bewoonde huise het boorgate gesink om die probleem aan te spreek.
Bo en behalwe die slegte watertoevoer tot die eiendomme, is daar ook geen watertoevoer tot enige van die brandkrane in die uitbreiding nie. Dit hou ’n groot risiko in as daar ‘n brand sou uitbreek hetsy in die veld om ons of by enige van die huise.
Dis die eerste maal dat ek ’n nuwe eiendom koop en het vanselfsprekend aangeneem dat daar water is. As ons enigsins bewus was van die waterkrisis in hierdie area, sou ons waarskynlik nie die huis gekoop het nie.
JC Havenga