Kumba Bergfietswedren reëlings verloop vlot

THABAZIMBI – Dit is weer tyd vir die jaarlikse Kumba Hardekool Bergfietswedren, wat op 17 Oktober 2009 te Ben Alberts Natuurreservaat sal plaasvind.
Dit beloof om ‘n gesellige dag vir die familie te wees, waaraan oud en jonk kan deelneem. Vir die deelnemers is daar afstande van 70km, 35km en 10km. Die 70km is ‘n nuwe enkel rondte en ‘n goeie uitdaging wat jou uithouvermoë sal toets tussen die koppies van die Kumba Ysterertsmyn. Die 35km en 10km sal net in die Reservaat plaasvind. Kumba is die hoofborg en gee groot kontantpryse vir die eerste vyf mans en dames in elke afstand. Daar sal ook pryse wees vir die onder 16 seun- en dogterdeelnemers in elke afstand.
Die NG Kerk bied oudergewoonte die verversings te koop aan wat die honger en dors sal stil. Die organiseerders verwag bykans 200 deelnemers. Inskrywings kan gedoen word op webtuiste: entrytime.com of op Vrydag 16 Oktober vanaf 18:00 tot 20:00 en Saterdag 17 Oktober vanaf 06:00 tot 07:45 te Ben Alberts Natuurreservaat. Wegspring is om 08:00. Vir navrae, kontak Johan Pienaar by 082 4680 142.