Kleuter Atletiek

THABAZIMBI – Menige huishoudings was op Saterdag oggend 5 September in rep en roer om hul opgewonde kroos betyds by hul groot atletiekdag te kry. Die kleuters van 5 van die plaaslike kleuterskole het aan ‘n verskeidenheid items deelgeneem. Elke skool het die geleentheid gekry om voor die paviljoene te paradeer en hul kreet so hard as moontlik te skree. Die kleuters is in ouderdomsgroepies ingedeel en daarna het die groot pret begin.
Eerste aan die beurt was ‘n swart motorfietsresies en elke kleuter het vir die vale gery sodra die daar gesê is ry! Volgende op die lys was die hindernis item waar verskillende aktiwiteite vir die verskillende ouderdomsgroepe uitgewerk is sodat dit darem nie te moeilik was vir hulle nie. Die vyf-jariges moes paddaspring en daar is ‘n hele paar lang spronge beleef. Hardloop was laaste op die lys en party ouers het selfs langs die baan gedraf om te dien as motivering vir die kleintjies wat so rondkyk of sy maatjie langs hom is.
Elke kleuter wat aan al die items deelgeneem het, het op die podium geklim om soos ‘n wafferse wenner ‘n medalje te ontvang. Deurentyd was daar heerlike eetgoed, veral die tuisgebakte doughnuts, en koeldrank te koop. Die verrassing van die dag was toe daar ‘n spesiale wedloop was vir ma’s, pa’s en selfs een vir die juffouens wat mens opnuut laat terugverlang het na die sorgelose dae van kindwees.
Hierdie baie suksesvolle dag wat deur ouer sowel as kleuter geniet is, is deur Martie du Plooy van Smartbrain gereël en daar word uitgesien na volgende jaar.