Brandgevaar – wees voorbereid
Mnr Philippie De Beer voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou Unie (DLU) het gesê dat dit krities belangrik is dat grondeienaars by georganiseerde landbou betrokke moet raak veral met brande wat wydverspreid voorkom. Op Sondag 9 Augustus 2009 het ‘n brand op ‘n plaas uitgebreek. Die DLU is genader om te gaan help al was die persoon nie ‘n lid van TLU SA Noord nie. Daar moet nou oorweeg word om die grondeienaars wat nie ‘n lid is nie, te laat betaal vir dienste gelewer. Die persoon was ook nie ‘n lid van enige brandvereniging nie.
Chris Wagner van Warmbad het pas ‘n Brandvoorkomingshandleiding opgestel. Die sektorhandleiding is vir alle lede beskikbaar. Die sektordoelstelling is om alle Grondeienaars binne die Sektorgebied te organiseer in ‘n effektiewe vereniging wat die negatiewe gevolge van veldbrande beperk deur veldbrande te verhoed deur beplanning en voorkomende optrede asook wetstoepassing, waar nodig. Om waar ‘n veldbrand tog wel ontstaan, dit in die kortste moontlike tyd permanent te blus.
Mnr Jan Viljoen, voorsitter van TLU Noord, het georganiseerde landbou aangemoedig om seker te maak dat die korrekte proses in plek is om brande te voorkom en die brande wat wel ontstaan, so gou as moontlik te blus. Hy het weer gewaarsku dat brande nie noodwendig spontaan ontstaan nie en daarom moet die patrollies wat die Plaaswagte ry, ook as deel van voorkoming gesien word.