Roland van Tonder: Uit een koppie

Roland van Tonder is vir 'n dekade en 'n half reeds voorsitter van die Koedoeskop Besproeiingskema en voel sterk oor boere en hul waterregte.
Roland van Tonder is vir 'n dekade en 'n half reeds voorsitter van die Koedoeskop Besproeiingskema en voel sterk oor boere en hul waterregte.

Elana Greyling

KOEDOESKOP – Roland van Tonder is ‘n bekende besproeiingsboer in die Koedoeskop-omgewing.
Hy is ernstig oor sy water, soos elke besproeiingsboer behoort te wees. Hy is reeds ongeveer vyftien jaar voorsitter van die Koedoeskop Besproeiingsraad en het by die eerste voorsitter, wyle oom Koos Meintjies van Assen, oorgeneem. Roland was ook voorsitter van die plaaslike boerevereniging ‘n hele paar jaar gelede.
Hy is as meganiese ingenieur gekwalifiseer, maar boer reeds 34 jaar. Sy groot liefde is sy vliegtuie. Sy boerdery loopbaan het begin toe hy lugbespuiting begin doen het. Deesdae plant hy koring en sojabone, verwerk sy eie voer, vlieg oorsese toeriste Okovango Delta toe en boer ‘n bietjie wild in die Kalahari. Hy skryf sy sukses toe aan die kwaliteit van sy span. Hy glo as ‘n mens jou met kwaliteit mense omring, kan jy net suksesvol wees.
Roland is baie bekommerd oor die impak wat beplande ontwikkelings deur ESKOM, Exarro en SASOL op die Bosveld sal hê. Die watervoorsiening vir die beplande projekte in die Steenbokpan-omgewing raak die KBR direk. Water vanaf die Hartebeespoortdam moet vanaf Thabazimbi per pypleiding na die gebied gelei word. Dit sal ‘n direkte en dramatiese impak hê op die water wat vir die KBR boere beskikbaar is. Die gebied het die afgelope twee jaar ‘n goeie seisoen beleef en daar is tans geen probleme nie, maar drie jaar gelede het die KBR nie genoeg water vir hul eie behoeftes gehad nie. Almal wat die Bosveld ken, weet water is maar altyd ‘n probleem, meen hy. Met planne van die Departement Waterwese en Omgewingsake (die voormalige DWAF) moet ‘n situasie vroeër of later ontstaan dat boere en industrieë moet meeding om dieselfde water.  “Ons drink almal uit dieselfde koppie,” waarsku hy. Dit sluit besproeiingsboere bo die Hartebeespoortdam in, wat nie onder ‘n besproeiingsraad georganiseer is nie, die Hartebeespoortdam besproeiingsboere, boere bo Roodeplaatdam, die KBR, die Mogol Besproeiingsraad word almal geaffekteer. As boere en industrieë om dieselfde water meeding, sal die industrie altyd wen, waarsku hy. Boere in die KBR produseer tans koring in die winter en sojabone in die somer. Die opbrengs hiervan beloop ongeveer R 1,1 biljoen op 40 000 hektaar. Huidig het boere nog vertroue in die gebied en besproeiingsgrond word tans verkoop teen R 100 000/hektaar.
Sonder ‘n redelike waarborg van konstante watervoorsiening, is die pryse egter nie moontlik nie. Hoewel konsultante boere verseker dat hul waterregte nie onteien sal word, twyfel boere egter of daar genoeg water vir almal kan wees. Met verwagte verhoogde afvloei van Hartebeespoort af, moet die water opgedam word, volgens Roland.
Die KBR se plan is duidelik: verhoog Klipvoor- en Mokolodamme en bou stuwalle by Vlieepoort en Boschkop. Dit behoort genoeg water te kan opvang gedurende die somermaande om voorsieningsprobleme op te los. DWAF het egter in twee jaar se tyd nie op hierdie voorstel gereageer nie. Argumente is dat damme sal toeslik. Roland glo dis ongegrond, omdat bestaande damme nie toeslik nie.
Boere het tans 130 miljoen kubieke meter water nodig en met verliese in die rivier, benodig die Krokodil-Wes skema ongeveer 200 miljoen kubieke meter water om produktief te kan funksioneer. Die aanvraag van die industrieë  is ook soveel en die behoefte verdubbel dus.
Roland glo die voorstel kan werk.. “Hierdie hele Medupi-projek van Eskom is een van die grootste bouprojekte in Suid-Afrika en as hulle nog ‘n paar rand ekstra sou spandeer, kan dit ‘n wen-wen situasie wees. Indien nie sal hulle die kos uit boere se mond vat en daarmee saam voedsel sekuriteit bedreig.”
Gedurende die tyd dat Roland voorsitter van die KBR was, was alle besluite binne die Raad konsensus-besluite. Selfs in tye van waternood, is probleme op ‘n vredeliewende wyse opgelos. “Ons beskerm mekaar se belange, omdat ons voortbestaan vir mekaar belangrik is,” vertel hy. Hy sal nie graag wil sien dat hierdie bestaan bedreig word deur kortsigtigheid in die naam van vooruitgang nie.