General

Jag in Zimbabwe – Professionele jagters gemaan tot versigtigheid

Professionele jagters is gemaan om versigtig te wees en deeglik navorsing te doen voordat kliënte na Zimbabwe geneem word.
Volgens mnr Jan Viljoen, Voorsitter TLU Noord, het die Hofuitspraak wat in Windhoek gelewer was, duidelik aangedui dat die grond-gryp deur die regering in Zimbabwe onwettig was en as blatante diefstal gesien moet word. Die hofuitspraak was duidelik en het verreikende implikasies vir enige persoon of persone wat op die gesteelde grond woon, werk of van die hulpbronne gebruik maak.
Viljoen het gesê dit is belangrik dat Professionele jagters hulself moet vergewis van die wetlike implikasies van die SAOG Hofuitspraak. Indien Professionele jagters kliënte na plase in Zimbabwe neem wat gesteel was, kan hulle hulself en hul kliënte blootstel aan moontlike vervolging. Die wettige eienaars kan moontlik later eise instel vir skadevergoeding asook eise ten opsigte van die verlies van inkomste. Ooreenkomste met huidige sogenaamde bevoordeeldes is geen waarborg dat daar nie later eise ingestel kan word nie. Eise teen die wat deur die diefstal gebaat het, maar ook eise teen die jagters en hul kliënte wat deur die transaksie finansieel bevoordeel word, kan later verwag word.
Viljoen het klem daarop gelê dat Suid Afrika een van die ondertekenaars is van die SAOG Multilaterale Ooreenkoms (SADC Treaty) en daarom is Suid-Afrikaanse burgers ook aan die ooreenkoms gebind. Meer nog, die Suid-Afrikaanse regering moet kennis neem van die implikasies van die Ooreenkoms en die implikasies vir landsburgers. Die Suid-Afrikaanse regering behoort die inhoud van die SAOG Ooreenkoms deeglik onder die aandag van elke landsburger te bring. Die vraag kan gevra word of die Suid-Afrikaanse regering plig versuim om nie burgers van die inhoud van die SAOG Ooreenkoms in te lig nie en wat die regsimplikasies is indien Suid-Afrikaanse Burgers van die beginsels oortree en later aangekla word.
Dit word meer en meer duidelik dat die natuurlike hulpbronne in Zimbabwe geplunder en gestroop word. Suid-Afrikaanse burgers word gewaarsku om nie aan die stropery deel te neem nie. Wildsplase en selfs bewaringsgebiede word van wild wat oor dekades heen opgebou is, gestroop. Indien Suid-Afrikaanse burgers standpunt inneem om nie aan die stropery deel te neem nie, kan dit ‘n duidelike boodskap stuur aan die sogenaamde bevoordeeldes dat diefstal nie geduld sal word nie. Op die manier sal Suid-Afrikaners ook nie later verantwoordelik gehou kan word vir die vernietiging van hulpbronne wat oor ‘n lang tyd opgehou was nie.
Viljoen het gesê dat beide die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewarings organisasie en die Professionele Jagters vereniging per brief ingelig is en hy hoop en vertrou dat hulle hul lede spoedig sal inlig.