Oop minisubstasies skok
Hennie Pauw
THABAZIMBI – ‘n Ondersoek het getoon dat weinig van die elektriese substasies of elektriese meterkaste aan die oostekant van Thabazimbi, teen die berg uit, gesluit word. Een van die substasies het geen skarniere gehad nie en die deur het afgeval.
Stroombrekers van 400V en panele van 11 000V is oop en enige oningeligte persoon of kind wat die binnekant van ‘n substasie of meterkas raak, kan sy lewe verloor, sê Edwin Krause wat die toestand onder die aandag van Die Kwêvoël gebring het.
Krause, wat self voorheen werksaam was by die elektriese afdeling van die munisipaliteit, het die probleem ook onder die aandag van Jacob Khuabo, hoof by die munisipaliteit se elektriese afdeling, asook ‘n raadslid gebring.
Dit blyk dat hierdie aksie baie goeie resultate gehad het. Khuabo het aan Die Kwêvoël die versekering gegee dat die klagte opgevolg is en dat alle elektriese minisubstasies en meterkaste nou van slotte voorsien is. Hulle het veral die area tussen Frikkie Meyerstraat, Vierde Laan, Diederikstraat amper tot by Dertiende Laan noukeurig nagegaan vir enige oop meterkaste en substasies.
Dit blyk dat die probleem, wat volgens Khuabo reeds vir baie jare bestaan, ontstaan wanneer die meters gelees word, hetsy deur kontrakteurs of deur werknemers van die rekeninge afdeling van die munisipaliteit.
Soms word die slotte aangetref as gebreek deur slotbrekers (bolt cutters) of somtyds word die slotte nie gesluit nie, omdat die slotte met die sleutel gesluit moet word en nie net toegedruk kan word nie. Die moontlikheid bestaan ook dat slotte deur ‘n kriminele element gesny en verwyder word.
In ‘n ontstellende brief wat aan Die Kwêvoël (lees bl 4) gerig is, vertel Emmie von Capiewski hoe sy gadegeslaan het twee jong kinders met die binnekant van ‘n minisubstasie speel terwyl hul ma naby sit en toekyk. Dit is eers toe ‘n verbyganger hulle gewaarsku het en die minisub se deur toegemaak het, dat die kinders beveilig is. Hiervan moet afgelei word dat hierdie ma nie ‘n benul gehad het van die gevaar wat so ‘n minisub inhou nie.
Volgens Khuabo word elektriese minisubstasies een maal per maand geïnspekteer en sal hulle veral voortaan op die uitkyk wees vir minisubstasies en meterkaste sonder slotte. Hulle is baie bewus van die erns van die saak, sê hy, want sy departement sal verantwoordelik gehou word indien iemand seerkry.
Enige persoon wat ‘n meterkas of substasie sonder ‘n slot opmerk, of enige ander elektriese noodgevalle wil aanmeld, kan die bystandnommer by Elektries bel, naamlik 083 703 2804 of Jacob Khuabo self op 082 871 5630.