Kurper Bonanza aangebied
NORTHAM – Northam Hengelklub bied ‘n groot Kurper Bonanza aan op Sondag 23 Augustus by die Northam Konsentratordam.
Die eersteplekwenner sal huis toe stap met R1 000 in sy sak, die tweedeplekwenner met ‘n rooibok en vlakvark en die derdeplekwenner met ‘n vlakvark. Daar sal ook medaljes aan hierdie drie wenners oorhandig word.
Die plekke word aangewys om 06:00 Sondagoggend wanneer die penne getrek word. Penne word aangewys na aanleiding van die nommers wat getrek word.
Indien ‘n span nommer een trek sal sy lede (veronderstel dit is 6) by die eerste 6 penne op die oewer staan. Die span wat nommer 2 trek begin dan van die sewende pen plekke op die oewer inneem. Slegs 76 penne is beskikbaar.
Penne word verkoop teen R100 per pen, met ander woorde R100 per persoon. Slegs een visstok per hengelaar word toegelaat.
Die wenners word bepaal deur die drie sakke kurpers wat die swaarste weeg. Geen kurpers onder 150mm mag in ‘n sak geplaas word nie. Enige kurper korter as 150mm in ‘n hengelaar se sak sal lei tot onmiddellike diskwalifikasie.
Die organiseerders versoek dat medehengelaars in ag geneem en gerespekteer word, en dat orde te alle tye gehandhaaf word. Geen harde musiek of lawaai sal toegelaat word nie.
Daar is badkamergeriewe beskikbaar en verversings sal verkoop word tydens die kompetisie.
Die kompetisie stop om 15:00 en inweging geskied om 15:30 by die boom.
Kaartjies kan gekoop en navrae gerig word aan die klubvoorsitter, Demsie du Toit, by 084 363 8426.