General

Warm klere vir Rooiberg-leerders

Emily Malebye, skoolhoof van Thabakhibidu Primary in Rooiberg, staan hier by die 30 leerders in haar skool wat van warm klere voorsien is deur die NGK Vrouediens in Rooiberg.
Emily Malebye, skoolhoof van Thabakhibidu Primary in Rooiberg, staan hier by die 30 leerders in haar skool wat van warm klere voorsien is deur die NGK Vrouediens in Rooiberg.

Hennie Pauw

ROOIBERG – Te midde van ‘n koue winterseisoen het die Rooiberg NG Kerk Vrouediens daarin geslaag om warmte te versprei deur warm skoolklere aan 30 laerskool weeskinders en 13 hoërskoolleerders in Rooiberg te verskaf aan die begin van die derde skoolkwartaal. Dertig weeskinders, wat ‘n tekort aan warm skoolklere het, in Thabakhibidu Primary School is deur hul skoolhoof, Emily Malebye, geïdentifiseer. Daar is besluit om warm sweetpakke in dieselfde kleur as hul skoolklere aan hierdie kinders te voorsien. Die sweetpak is beide dienlik en aanvaarbaar vir die skool. Die 30 leerders se groottes is geneem en op Maandag 20 Julie is ‘n sweetpak aan elkeen van die 30 leerders in sy of haar grootte oorhandig. By die Secondary School Iterileng in Rooiberg is 13 kinders uitgewys wie behoefte aan warm klere het. Aan hierdie leerders is elk ‘n langbroek, hemp en trui geskenk. Die dames van die Rooiberg NG Kerk Vrouediens het fondse ingesamel deur verkopings en môremarkte aan te bied. Die fondse wat op hierdie manier ingesamel is, was genoeg om die warm skoolklere aan die leerders in die twee skole in Rooiberg te voorsien. Volgens Philip Nel, tesourier van die NGK Vrouediens in Rooiberg, is hulle dankbaar teenoor die Here dat die nood onder hul aandag gekom het en dat dit moontlik was om ‘n tasbare bydrae te maak.