Verwagte Prospekteering deur Sasco te Groothoek, Kransberge
So 41 jaar gelede, was ons wys genoeg om te belê in ‘n lappie grond, weg van die stadsrumoer, in die rustigheid, omring deur die natuurskoon van die Kransberge. Soos ons destyds, vind ons kinders tans ‘n lafenis, ‘n wegbreek uit die stad, na hierdie klein stukkie paradys in die bosveld. Hul erflating! Jarelank was daar ‘n kalmte en ‘n vreedsaamheid in die omgewing waarna mens bly smag het, al was jy waar in die wêreld. Met ontwikkeling en vooruitgang in die dorp, was dit seker dwaas om te verwag dat die patroon van kalmte in die berg vir ewig sal hou. Naas die mynbedrywighede wat jarelank die dorp se hoofslagaar was, is die fokuspunt na wildsboerdery en toerisme verplaas. Marakele Nasionalepark is gebore en die is ‘n groot bonuspunt vir Thabazimbi wat dan ook meer mense uit die stad en selfs oorsee begin trek het. Buitestaanders was nou bewus van die mooi in die omgewing. Gastehuise en Lodge’s het soos paddastoele opgeskiet. Wonderlik! Enigeen wat wou, kon saam met ons die wonderlike landskap- die natuurskoon kom geniet. Ongelukkig het dit ook die vreedsaamheid en rustigheid uit die Kransberg kom skep. Die verkeer op die grondpad, het begin lyf kry. Vragmotors wat vroeër jare selde oor die bergpas wou ry, is nou ‘n gereelde gesig. Gedurende skoolvakansies en oor naweke is “Quad bike” eienaars bedrywing op die grondpad. Haal toertjies uit en “spin” dat die stof spat. Bewuswording van die omgewing bring ook uitbreiding tot bo in die Berg. ‘n Visualiserings-embrio wat nie noodwendig bewaringspraktyke op die agenda het nie, maar wel ontwikkeling wat die hele omgewing sal skaad en beslis sy aansig sal verkrag, is geskep. Prospekteerders begin hul voelers uitsteek en Groothoek die slagoffer! Reeds is daar ‘n brief uit onder Sasco se vaandel dat hul gate wil kom sink- masjinerie en arbeiders instoot wat, indien daar minerale van kwaliteite en kwantiteit gevind word, ‘n ooreenkoms sal sluit met die betrokke eienaar op gedeeltes van Groothoek. Die ondertekenaar van die skrywe en moontlike ontwikkelaar, het blykbaar reeds self ook ‘n stuk grond in die omgewing. Die aarde word aan flarde geskeur en dit om die mens te verryk. Die mens se gierigheid ken geen perke nie. Die woord respek, het lankal sy waarde verloor- en hier verwys ek nie eers na respek vir en tot mense nie, maar teenoor die natuur en die ongereptheid daarin. Ons, die mens steel al hoe meer uit die aarde en die diere van die veld word geensins in die proses ontsien nie. Met programme soos 50/50 wat van die lug verdwyn, wat die swak skakels in ons samelewing uitgewys het…., wie gaan nou die publiek bewus maak van die onregte wat gepleeg word? ‘n Moontlikheid van myn aktiwiteite hierbo in die berg is skrikwekkend! Dit is asof Esau weereens sy eersgeboortereg verruil het vir ‘n potjie lensesop!
Bekommerde Kransberger