Veldvleis: van boer na verbruiker
Elana Greyling Veldvleis, beesvleis natuurlik vanaf die veld geproduseer, was weereens onder bespreking tydens die RPO se provinsiale Kongres op Baltimore. Produsente het gedebateer oor die markaandeel wat so ‘n oënskynlike nismark kan belê. Almal was dit eens dat daar beslis ‘n behoefte bestaan, maar dis onseker hoeveel die verbruiker werklik bereid is om te betaal vir vleis wat sonder groeihormone en antibiotika geproduseer word. Die kwessie van wit versus geel vet is ook bespreek. Boere in die Thabazimbi-omgewing het reeds vroeër vanjaar hierdie kwessie onder die loep geneem. Volgens dr Pieter de Kock, bekende teler en beesboer, bied veldvleis die gesonde opsie vir die verbruiker en die mees ekonomiese vir die produsent. Die voordeel vir produsent en verbruiker blyk soms in konflik te wees as dit kom by effektiewe, bekostigbare kwaliteit. Met die produksie van veldvleis wil dit egter voorkom dat almal aan die wenkant kan wees. ‘n Inligtingsdag vir beesvleisprodusente is onlangs gehou by Trekpad Safaris van dr Pieter de Kock naby Thabazimbi. Byna ‘n honderd mense waaronder tien Afrikaner stoettelers het die dag kom bywoon. Brahman, Bonsmara, Nguni en Boran stoettelers, sakemanne, ‘n groot hoeveelheid kommersiële telers, asook ‘n afvaardiging van Spar se voedselafdeling van vleisaankope, BKB, Vleissentraal afslaers, gesondheidsberoepsverteenwoordigers, UOVS biokinetici en slagters het byna die totale voedselketting verteenwoordig. Daar is gesels oor die redes vir die finansiële dilemma van voerkrale en waarom daar reeds drie voerkrale in die Thabazimbi-Rustenburgstreek gesluit is. Prof Frikkie Neser het ‘n lesing aangebied wat aan boere ‘n alternatief bied. Volgens Neser kan ‘n boer steeds geskikte beeste voorsien aan die voerkrale, maar moet bedag daarop wees dat hierdie mark mag opdroog. Dit kan dus ‘n beter opsie wees om inheemse rasse in vleisbeeskuddes in te voer sodat ‘n boer sy eie bemarker oor die volgende paar jaar kan word. Inheemse rasse behoort ‘n Suid-Afrikaanse kudde te oorheers en Europese en Britse rasse behoort minder prominent gebruik te word. Die wêreld vra sagte beesvleis, ‘n eienskap wat op wetenskaplike wyse al bewys is in rasse soos die Afrikaner, Boran en Nguni. Dr Pieter de Kock het ‘n gesondheidsanalise gedoen waar voerkraalvleis en veldvleis met mekaar vergelyk is. Hierdie vergelyking bewys onomwonde dat veldvleis op elke moontlike gesondheidsvlak superieur is tot voerkraalvleis. Toetse het bewys dat wanneer veldvleis, voerkraalvleis, hoender, vis en kalkoen vergelyk word, veldvleis steeds die minste slegte cholesterol bevat, die minste versadigde vette bevat en dus minder kilojoules per gram bevat as enige ander vleissoort. Hugo Penshorn het die bevinding beaam deur te sê dat C-graad veldkoeie vier tot ses weke in ‘n koelkamer kan verouder maar dat voerkraal afgeronde Super A3-karkasse binne twee weke begin bederf. Obie du Plessis het in ‘n lesing die Afrikanerbees as uitstekende kandidaat uitgewys vir die voorsiening van veldvleis: Afrikaner besit geneties ‘n dubbelgeen vir vleissagtheid; rond af op gras op 24 maande met ‘n karkasgewig van 200-230 kg AB2-gradering; het ongeveer 50% minder vet per karkas as die voerkraal karkas(karkasse is vertoon); grasgevoerde Afrikaners besit die goedaardige HDL cholesterol en nie die kwaadaardige LDL cholesterol van voerkraalbeeste nie; die Afrikaner is’n veldbees bestand teen snotsiekte, witoogsiekte, met dikvel, korthaar, stap ver, kalf maklik sterker kalwers van 30-32 kg – die ideale vleisbees. Hierdie feite is behoorlik prakties bekyk deur karkasse te vergelyk. Die Afrikaner as beesras ideaal vir die produksie van veldvleis is prakties bespreek by die beeskraal. Diere word binnekort geslag in die projek vir bemarking onder die Veldvleis brandmerk.