Veiling vermaak by Apiesdoring Karnaval

THABAZIMBI – Jan Smit, ‘n plaaslike afslaer en Thys die Bosveldklong het dit in gemeen, hulle praat jou met hulle skerpsinnige humor en oorreding gou ‘n gat in jou kop om ook te bie by ‘n vendusie.
En so hoort dit, want die veiling is deel van die vermaak en dis juis hulle twee wat die veiling by die Apiesdoring karnaval op Saterdag 8 Augustus op die Hervormde Kerk Vliegepoort se terrein sal hou. 
Net 30 uitgesoekte artikels word opgeveil waarvan die meeste meesterlik handgemaakte houtmeubels is wat later erfstukke kan word.
Dis ‘n ongeskryfde wet van ‘n kerkbasaar – alles moet ‘n “bargain” wees. Vleis, biltong en etestalletjies se pryse is vér onder wat jy op ‘n ander plek sal betaal, want volgens die organiseerders is dit alles geskenk vir die Here en die kerk. Daar is egter een uitsondering en dis by die veiling. Jy koop nie ‘n “bargain” op ‘n kerkveiling nie. Want jou gewete gaan jou ry…..
Sekerlik die grootste geskenkte artikel is die ’97 Jeep Grand Cherokee 4.0. Dan is daar vir die bloubul ondersteuners ‘n verrassing, ‘n 2009 getekende Super 14 Bulls trui, geraam, spesiaal gereël deur die afrigter Frans Ludeke wat opgeveil sal word.
Daar is ‘n dwarsleggerhout- oftewel “sleeper”houtkis gemaak deur die 85 jarige oom Carel Botha,  ‘n meesterlik handgemaakte jagmes deur Wynand Frasier, ‘n spitbraai, spesiaal gemaak deur Koos en Hendrik Peacock, vier top skilderye, ‘n Apiesdoringhout riempiesbank, ‘n klompie wild aan die hak vir die manne wat wil gaan biltong maak en so meer. Die organiseerders het ook aan Thys die Bosveldklong toestemming gegee om ‘n spesiale artikel op te veil ten bate van die sanger Matthys Roets wat onlangs in ‘n motorongeluk verlam is.
Die veiling begin om 11:30 terwyl karnavalgangers rustig op ‘n baal onder die kolos Apiesdoringbome sit en kyk hoe Jan en Thys die manne verlos van hulle geld, maar pasop as vroulief hier langs jou die kinders met ‘n handgebaar nader roep – jy mag dalk duur betaal vir haar handteken.
Vir navrae skakel die karnaval voorsitter, Isak Joubert by 083 488 6357 of ds. Hennie van der Linde by 083 507 0335.