Thabazimbi Apiesdoring Karnaval
THABAZIMBI – Die organiseerders van die Apiesdoring karnaval wat plaasvind DV Saterdag 8 Augustus by die Hervormde Kerk Vliegepoort op Thabazimbi, het besluit om ‘n eerste en unieke kompetisie aan te pak. Op die karnavalterrein staan ‘n reuse, maar stewige Apiesdoringboom, wat ‘n paar jaar terug deur die weerlig doodgeslaan is. En dis teen dié boom wat die laer- en hoërskoolkinders hulle klim talente kan uittoets. Henk Havenga en sy broer JC, sal met hulle “absailing” klimtoue verseker dat klimmers veilig land as hulle misvat. En met ‘n paar pryse wat die kinders sal laat aanhou klim, gaan die kompetisie vir ure se vermaak sorg. Om 9:30 vind ‘n gratis poppekas vertoning in die kerkgebou plaas onder leiding van die bekende Encore kinder-produksiespan. Die twee hansworse Sterretjie en Cheeky sal die kleingoed laat skater met hulle kaskanades waar Tracy die volstruis se eier gesteel geword. Hierdie is ‘n lushof vir ‘n kind. Die gr 10 kinders en hulle ouers sorg vir ‘n spookhuis wat enige riller op televisie soos ‘n kinderproduksie sal laat lyk. Hulle wag-woord, so sê hulle, is “bang”. Dan is daar talle speletjies spesiaal vir die kinders en ‘n reuse tombola. Daar is kettieskiet en skyfskiet vir die jongmanne asook ‘n boogskiet- en laser kleiduifskiet kompetisie vir pa en vir oupa. En die jaar is daar ook ‘n lewende hawe stalletjie. Hanslammertjies, speenvarkies en pluimvee soos eende en duiwe sal gevoer kan word en gekoop kan word. En met Petra se Kameeldoring lekkergoedstalletjie se groot verskeidenheid lekkernye, sal van die kinders hulle kan verbeel hulle bevind hulle sowaar in kinderland. Vir navrae skakel die karnaval voorsitter, Isak Joubert by 083 488 6357 of ds. Hennie van der Linde by 083 507 0335.