Thaba skopboksers wen 17 medaljes
THABAZIMBI – Elf Thabazimbiese skopboksers, wat aan ‘n nasionale skopbokskampioenskap in Stellenbosch deelgeneem het, het 17 medaljes huis toe gebring. Daar was ongeveer 1200 deelnemers by die kampioenskap, wat van 9 tot 11 Julie geduur het. Individue kan in verskillende afdelings deelneem en daar was ook spandeelname. Tydens ‘n spankompetisie het Lourens du Plessis (jnr), Shaun Scrooby, Kyle Dyer, Bennie Labuschagne en Ian Rall derde plek behaal in hul ouderdomsgroep. Shihan Peet van Breda se outoppie-span het ‘n tweede plek behaal. Vir individuele deelname het Annebel Buys silwer en goud verower, Francois Buys ook silwer en goud, Kyle Dyer goud en brons, Lourens du Plessis (jnr) silwer, Werner Rall goud en Sanel Steyl silwer en goud. Spanne vir die WAKO (World Amateur Kickboxing Organization) Wêreldkampioenskap in Frankryk in November vanjaar word teen middel-Augustus aangekondig. Volgens Shihan Peet het die ondersteuning van die ouers, wat baie duidelik sigbaar en hoorbaar was, tydens die kampioenskap bygedra tot die groot sukses van die toer. Lappies Labuschagne en Lourens du Plessis (snr) het ook bygedra deur as beampte en skeidsregter op te tree. Thabazimbi het uitgestaan in hul nuwe sweetpakke. ‘n Besige maand lê vir die skopboksspan voor. Die graduering van Thabazimbi Skopboks vind plaas op 31 Augustus. Twee dae voor dit, op 29 Augustus, vind ‘n tweede Great North Kampioenskap plaas.