Suidelike boere vergader oor grense
Aangesien dit noodsaaklik is dat boere in die Suider-Afrikaanse gebied bymekaar moet kom om gemeenskaplike probleme te bespreek en ook om ‘n strategie vir volhoubare boerdery, voedselsekerheid, en eiendomsreg aan te spreek, is ‘n vergadering met die verteenwoordigers van die Southern African Commercial Farmers Alliance (SACFA) gereël. Die verteenwoordigers van SACFA sal na Suid-Afrika deur Botswana reis en by Groblersbrug deur die Suid Afrikaanse afvaardiging ontvang word.
Mnr Jan Viljoen, voorsitter van TLU Noord, het gesê dat die boere van SACFA baie geleer het uit die vergrype in Zimbabwe en dat die Provinsiale Dagbestuur die vergadering sal bywoon. Die harde werklikheid van die verval van die staat, wetteloosheid, anargie en vernietiging van die beskawing het nuwe insigte gebring. Die nuwe insig bring voort nuwe wysheid en nuwe waarhede. Daardie waarhede en wysheid moet nou in planne omskep word wat vryheid vir almal in Suider Afrika sal waarborg. Die bevestiging van eiendomsreg moet nagestreef word sodat almal in Suider Afrika die vrugte van ‘n stabiele en gesonde demokrasie kan ervaar. Netso moet die blatante minagting van die hof deur die Mugabe regime verreken word en daar moet planne gemaak word om wet en orde na Zimbabwe terug te bring en daardie tipe wetteloosheid in Suid Afrika te voorkom. Die sogenaamde ‘transformation’ van die regbank in Suid Afrika sal dus goed dopgehou moet word.
Bates is die landsburgers se laaste beskerming teen die vergrype van ‘n magshonger en korrupte regerende party wat die regeringsinstansie skaak vir eie belang en selfverryking. Dit is duidelik uit die uitgerekte hofsake waarin gewone burgers in Zimbabwe teen die Mugabe regime betrokke is, dat self ‘n geweldenaar en diktator soos Mugabe, die waarheid besef het.
Viljoen het gesê dat kommersiële landbou in Suider Afrika daarna moet kyk om ‘n verteenwoordigende oorkoepelende organisasie op die been te bring. Voedselsekerheid gaan nie vanself kom nie. Kommersiële landbou kan en sal daar ‘n stewige bydrae moet lewer. Die roeping van kommersiële boere sal steeds die samebindende faktor bly wat boere oor die hele gebied saambind.