General

Diamant-vieringe vir die 2009 Pretoria Skou

31-31
Diamant-vieringe vir die 2009 Pretoria Skou

Van ‘n nederige begin van slegs handelsuitstallings en 125 beeste op skou tot ‘n skouprag van meer as 200 kategorieë met byna 5 000 skoudiere – dit toon die groei van die Pretoria Skou oor die afgelope 70 jaar.
Die Pretoria Skou vier vanjaar sy diamantherdenking. Die Skou begin op Vrydag, 28 Augustus en eindig op Sondag, 6 September, en die landbou-afdeling sal weereens ‘n hoogtepunt op die skouprogram wees. Dié vol program skop reeds op Donderdag, 20 Augustus af.
Die Skou se landbouprogram is soos gewoonlik in twee kategorieë ingedeel. In die eerste plek is daar die ryperdklasse se streekskampioenskappe vir Gauteng, wat gedurende die eerste week tot Donderdag, 27 Augustus die groot trekpleister vir die provinsie se perdeliefhebbers sal wees. Direk daarna begin die Internasionale Alzu Wêreldbeker Kwalifiserende Rondte vir Skouspring, met deelnemers wat vanjaar van lande soos Nieu-Seeland en Holland kom meeding.
Die veeteeltskou, oftewel al die bees- en kleinveerasse, plus nog interessante perderasse is vanaf Vrydag, 28 Augustus volstoom op dreef saam met die kommersiële uitstallings in die sale.
Wim du Toit, hoof uitvoerende beampte van die Pretoria Skou, sê daar is ‘n paar hoogtepunte op vanjaar se landbouskouprogram. “Die Pinzgauers, wat hulle Nasionale Kampioene by die Skou gaan aanwys, moet defnitief nie gemis word nie. Dít is ‘n afsluiting van die reeks van deelnames op vier onlangse skoue, naamlik Vryburg, Bloemfontein, die Royal op Pietermaritzburg en Thabazimbi. Belangstelling in dié ras groei steeds en sowat 150 inskrywings van 25 telers word verwag – onder meer ook die vleisbeesrasse se Gouebekerwenner op vanjaar se Royal, Mr. Silence”.
Dit sluit aan by ‘n ander eerste vir die Pretoria Skou, naamlik ‘n soortgelyke toekenning vir die Opperste Grootkampioen Bul as deel van die Skou se opgradering van hul interras klasse. Daar sal ook ‘n Groot-kampioen Vroulike dier aangewys word. In totaal is daar vanjaar 13 van dié klasse – vyf waarby vertoners kan inskryf en agt waarby telersgenootskappe kan inskryf.
Du Toit is ook opgewonde oor nuwelinge wat vanjaar hul skou-debuut by die Tshwane Events Centre maak. Dit is:
Die Hugenoot – ‘n vleisbeesras wat die eerste keer skou en op 1 September beoordeel word.
Die Percheron en Clydesdale – albei swaar trekperd-rasse wat op 3 September in hand- en drie ryklasse beoordeel word. Hierdie breërug kragreuse is bekend vir ‘n onvergeetlike ry-sensasie. Daar word in die huidige ekonomiese klimaat deur ‘n nuwe bril na hierdie maklik hanteerbare kragbron gekyk.
‘n Kennismaak-vertoning van Emoes – die Australiese ‘volstruis’ – bestaande uit ses maande oue kuikens en drie jaar oue voëls plus hul produkte soos verwerkte vleis in frikkadelkoekies, biltong, pragtige eiers, velle en vere maar veral die waardevolle remediërende olie waarvoor hulle wêreldwyd bekend is.
Die Savanna bokras sal van 20 Augustus tot 6 September by die Varkkompleks vertoon word.
Die ander twee jaarlikse staatmaker hoogtepunte is eerstens die streek se karkaskompetisie in die afdeling vir slagvee as deel van die Landbank/Samic Nasionale Karkaskompetisie. Beoordeling op die hoef (bees en skaap) is op Saterdag, 29 Augustus om 08:30 langs die Obaro-ring. Die beoordeling aan die haak is op Dinsdag, 1 September om 08:00 by Cullinan abattoir.
Tweedens is die LNR se aanwysing van 2009 se wenner prestasiegetoetste vleisbul en toekennings aan Sterpresteerders in vleisbeesteling. Hierdie gala-geleentheid is ook op 1 September in die ABSA Arena en begin om 16:30.

VLEISBEESTE
Altesaam 13 beesrasse neem aan vanjaar se Skou deel, insluitend die Pinzgauers se Nasionale-Kampioenskap wat op 1 September gehou word.
Die ander vleis- en dubbeldoelrasse wat aan die Skou deelneem is Dexter, Braunvieh, Limousin, Rooipoenskop, Drakensberger, Simbra, Santa Gertrudis, Herefords, Simmentaler, Brahman en Hugenoot. Jerseys sal die enigste suiwelras wees.
Vyftien vleisrassebulle kwalifiseer vir die 2009 Platinum-prestasietoekennings. Hierdie toekennings word vanjaar vir die 31ste keer deur die Landbounavorsingsraad (LNR) en Bayer Dieregesondheid aangebied.
Platinum-toekennings word jaarliks deur die LNR uitgereik. Die vereistes vir hierdie toekennings is dat ‘n bul Goue Meriete in ‘n fase C-groeitoets (C1, C2 of C3) in die vorige jaar moes verwerf het en dat sy meer Elite status vroeër in dieselfde jaar verwerf het as wat die betrokke seun Goue Meriete ontvang het.
Wenners van hierdie toekenning is nie noodwendig die beste presteerders in ‘n ras nie. Dit vul egter ‘n belangrike gaping in prestasietoetsing, naamlik die koppeling van ‘n bul se amptelike groeiprestasie met die vrugbaarheidstatus van sy moeder – ‘n belangrike aspek van diereverbetering.

KARKASKOMPETISIE
Beoordeling van slagdiere op die hoef (beeste en lammers) vir hierdie kompetisie is op 29 Augustus. Die karkasse word op 1 September by die Cullinan abattoir aan die haak beoordeel, gevolg deur die normale veiling en prysuitdeling op 1 September.

VARKE
Sowat 15 bere en tussen 20 en 30 sôe, wat saamgestel is uit Grootwit, Landras en Duroc, sal deel wees van die Skou.

PERDE
Die perdeskou begin op 20 Augustus met beoordeling vanaf 08:00 (sommige dae vanaf 07:00) – 18:00 oor ‘n tydperk van 18 dae. Twee arena’s word gebruik vir die hand-, ry- en tuigklasse. Tot dusver neem 13 rasse deel aan die verskeie kompetisies en aan die Internasionale Alzu Wêreldbeker Kwalifiserende Rondte, wat beloof om ‘n hoogtepunt op die program te wees. Vertonings van die pragtige Friesperde, Saalperde, Miniatuurperde en die Star Stallions sal sekerlik die room van hierdie rasse lok.
Die Suiwer Arabierperde word op 31 Augustus beoordeel in die ABSA en Oos Arena.
Die Alzu Wêreldbeker Kwalifiserende Rondte vir Skouspring vind vanaf 28 – 30 Augustus, 08:00 – 17:00, in die ABSA Arena plaas.
Die Star Stallion is werklik skouspelagtig en word op 31 Augustus vanaf 19:30 in die Obaro Kampioenskapsring gehou.
Van die land se mooiste Friesperde kan gesien word in die Friesperdvertoning wat op 26 Augustus in die ABSA Arena aangebied word.
Die interras beoordeling van perde is op 5 September om 16:00 in die ABSA Arena.
Die Percheron en Clydesdale – albei swaar trekperd-rasse word op 3 September, van 08:00 – 12:00 in the ABSA Arena, in hand- en drie ryklasse beoordeel.
SKAPE EN BOKKE
Die beoordeling van die SA Boerbokke vind op 31 Augustus en 1 September plaas. Daar is vanjaar weer ‘n boerbokveiling by die Skou, wat op 2 September om 11:00 in die Skaapkompleks plaasvind.
Die Kalahari Reds kan vanjaar vir die vierde keer by die Skou gesien word. Die ras sal op 31 Augustus en 1 September beoordeel word en sal op 2 September in die Skaapkompleks opgeveil word.
Die Dorpers en Wit Dorpers word op 3 September beoordeel en op 5 September opgeveil.
Die Suffolk skape word op 4 September beoordeel en sal op 5 September opgeveil word.
Die Pretoria Skou verwelkom ook vanjaar vir die eerste keer die Savanna bokras, wat van 20 Augustus tot 6 September vertoon sal word.

GEVEERDE VRIENDE  
Sowat 450 pluimvee sal tussen 26 en 31 Augustus geskou word, insluitend rasse soos Australorps, Bramas, Orpingtons en Leghons. Gedurende hierdie tyd sal suiwer geteelde pluimvee te koop wees. Meer as 300 sierduiwe sal tussen 1 en 6 September aan verskeie kompetisies deelneem.
Landbou-skounavrae kan gerig word aan Marlene Kotze by tel: (012) 327-1487, sel 082 435 4192.