General

Brandbeskermingvereniging Jaarvergadering

Hennie Pauw THABAZIMBI – Alle lede en nie-lede van die Thabazimbi Brandbeskermingvereniging (TFPA of Thabazimbi Fire Protection Association) word versoek om die jaarvergadering by te woon op Woensdag 5 Augustus om 14:00 in die Bioskoopsaal. Goeie organisasie binne die TFPA, Rampbestuur en Working on Fire hang grootliks af van die samewerking van boere en grondeienaars wat in Thabazimbi se brandbskermingsgebied val en daarom word hulle ernstig deur die uitvoerende komitee van die TFPA versoek om moeite te doen om vanjaar se algemene jaarvergadering by te woon. Nie alleen word TFPA-lede goedkoper van dienste voorsien, soos dié van Working on Fire, nie, maar die nuttige inligting oor wetgewing en voorbereidings ten opsigte van die komende brandseisoen, word beskikbaar gestel. Daar word voorspel dat vanjaar weer groot brande kan oplewer, soos gesien is aan die einde van 2008. Onsekerheid oor die beskikbaarheid van Working on Fire (WoF) se span by Marakele is tydens die laaste TFPA-uitvoerende vergadering bespreek, asook by ‘n later vergadering by Marakele Nasionale Park. Dit blyk dat Marakele die eerste roepreg het op die WoF-span, maar dat boere hul hulp kan inroep in gevalle van nood en waar ‘n veldbrand nie deur die boer self onder beheer gebring kan word nie. Die kostes verbonde aan die uitroep is R16,40 per kilometer vir TFPA-lede, betaalbaar deur die grondeienaar. Indien die WoF-span vir langer as 8 uur op ‘n eiendom besig was, moet die uitroeper die onkoste dra vir ‘n maaltyd aan elke WoF-werker. Die spanne se grootte wissel tussen 9 en 22 persone – afhangend van die vuurgradering. Vir nie-TFPA lede is die kostes hoër. Boere wat self die WoF-span vervoer, kan hierdie kostes beperk. Die WoF-span is nou ook tydens naweke op bystand vir die tydperk 1 Julie tot 30 Oktober op tye wanneer die vuurindeks bo 55% styg. Die vuurindeks word bepaal deur faktore soos humiditeit en windteenwoordigheid en –sterkte. Vir die maak van blokbrande moet twee vorms deur die plaaseienaar ingevul word, naamlik ‘n “Aansoek om veld te brand” asook “Kennisgewing van Brand”. Hierdie vorms moet of by Dept van Landbou in Thabazimbi of Rampbestuur se kantoor ingehandig word. Die vorms is ook by hierdie twee kantore beskikbaar. Kennis van blokbrande word gegee aan satellietleiers van die TFPA sowel as aan bure. Goedkeuring kan binne ‘n paar dae gegee word. Satellietleiers van die TFPA gaan inspeksies op lede se plase doen. Daar sal onder andere gekyk word na toegang tot die plaas, of brandstroke voorberei is, en of brandtoerusting en beskermende klere beskikbaar is om vuur te beveg. Toerusting wat vereis word, sluit in vervoerbare watertenks en vuurplakke. Daar word seker gemaak werkers weet wat hulle te doen staan indien ‘n brand uitbreek en of brandslaners oorpakke, kopbedekking, stofmaskers en hitte-bestande skoene het. Kommunikasiemiddels soos radio’s word ook aanbeveel. In die geval waar die Working on Fire-span benodig word, of vir navrae oor die TFPA, kan Renette Lategan by Thabazimbi Rampbestuur geskakel word op 083-688-0319.