Thabazimbi Apiesdoring Karnaval
THABAZIMBI – Toustaan is moontlik jou voorland by die Apiesdoring Karnaval wat op 8 Augustus by die Hervormde Kerk op Thabazimbi aangebied word.
Maar dis toustaan met ‘n beloning, want dis vir die tonne A-graad beesvleis en lamsvleis en die honderde kilo’s biltong wat te koop aangebied word. Ses en twintig jong osse is die laaste maande gevoer, en “dis topvleis”, verseker die organiseerders van die Karnaval. Verskeie snitte sal vir weggeepryse verhandel word byvoorbeeld T-bene teen R45p/kg, maalvleis R35p/kg, kookvleis
R29p/kg, varkbraaitjops vanaf R25p/kg en lambraaitjops vanaf R45p/kg, om net enkeles te noem. Die baie gewilde boerewors word weereens hierdie jaar verkoop teen net R39p/kg. Hierdie reuse slaghuis open DV om 8:00 en ongelukkig sal die eerstes in die ry die eerste keuse hê. “En as die Vader se wil daarby is sal 1000 sosaties met die sagste vleis daardie dag gebraai word,” sê die organiseerder met ‘n glimlag. Thabazimbi Bosveld is ook bekend vir sy wild en wildsplase is volop. Met die baie toetsrugby wat nou voorlê is hierdie jou kans om biltong in jou kluis, waarvan net jy die sleutel het, te kry. Baie beesbiltong is gedroog en wildsbiltong van koedoe-, gemsbok-, rooibok-, njala en blouwildebees en so meer is te koop teen R99p/kg.
Alta se wildvleis stalletjie is langs die biltongstal in die gebou oorkant die kerksaal waar gemarineerde fillets en ”potroast”, “russians”, opgestopte wildsboude en skenkels vir potjie, wildsalamis beskikbaar sal wees. Vir diegene wat gesond wil eet en die cholesterol wil dophou, is dit die plek waar jy jou aankope kan doen. Wees dus vroeg om teleurstelling te voorkom en kry solank jou vrieskas gereed. Vir navrae skakel die karnaval voorsitter, Isak Joubert by 083 488 6357 of ds Hennie van der Linde by 083 507 0335.