Sport

Groot slag van die Bosveld gelewer

THABAZIMBI – Die groot Slag van die Bosveld (The Battle of the Bushveld) is verlede Saterdag gelewer. Dit het Vrydagaand begin toe daar meer as ‘n hond uit ‘n bos gekuier is.
Saterdag het die 92 spelers reeds van seweuur af afgeslaan. En dit was ‘n pragtige gesig om soveel van die skoner geslag te sien gholf speel. Omdat die dames van Pretoria vir die reëlings verantwoordelik was is die uitslag nie in die boek geskryf nie en is dit jammer dat daar nie volledig van die wenners verslag gedoen kan word nie. Klaarblyklik was S van der Berg en J Reyers  met 51 punte die wenners, met Esme Behrens en Maggie Hoffmann tweede met 50 punte. Baie geluk aan die dames wat vir die reëlings verantwoordelik was.
Dit is nog steeds onverstaanbaar hoedat mense wat hulle self as gholfspelers uitgee nie die basiese etiket van gholf ken nie, of dit net verontagsaam. So is daar byvoorbeeld verlede week opgemerk dat iemand met ‘n gholfkarretjie werklik deur die sandkuil langs no 4/13 se skoonveld gery het. Gholfetiket is eintlik maar net goeie maniere en basiese intelligensie. Daar is ook spore van gewone trekkarretjies in van die sandkuile gesien. Ons baan is in die middel van die winter nog steeds in ‘n puik toestand en die eer gaan aan die komitee en die baanmeester, Eddie Williams en sy span. Net jammer dat almal nie die nodige waardering toon nie.
Almal wat die naweek na die Britse Ope gekyk het voel seker so ‘n bietjie hartseer dat Tom Watson op die einde geklop is. Dit was nogtans ‘n uitmuntende prestasie vir ‘n man wat in September 60 word.