Babakombers in geld vir Immergroen
THABAZIMBI – Bring bymekaar iemand wat flink en kreatief is met haar hande en ‘n paar energieke vroue met harte vir ‘n goeie saak, en daar word fluks fondse ingesamel vir die nuwe ontwikkeling van die ouetehuis, oftewel Huis Immergroen.
Daleen van der Merwe van die VLU Strewe-tak het, met appliekwerk, ‘n pragtige bababed duvet gemaak en dit geskenk om geloot te word ten bate van Huis Immergroen.
Die duvet is by die Medhof Apteek uitgestal op versoek van Debbie Viljoen (van Thaba Stereo) en Rita Elliot het lootjies verkoop teen R10 elk. Altesaam 124 kaartjies is verkoop en sommige lootjiekopers het ook donasies geskenk. ‘n Bedrag van altesaam R1 430 is ingesamel.
Die lootjiewenner, Serina Paton, is Dinsdag 21 Julie tydens ‘n trekking aangewys. Sy word versoek om die kombers af te haal by die apteek.
Marie Steenekamp het, namens die Huis Immergroen Projek Bestuur, alle lootjiekopers en betrokkenes by die kombersprojek, bedank vir hul bydraes.