Rhinos Waterberg rugbykampioene
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Northam Plats het Vrydagaand op hulle tuisveld die Waterberg rugbykampioene geword deur Thabazimbi te klop in twee baie harde rugby wedstryde. Die Rhinos het geskiedenis gemaak deur eerstens boaan die punte leer te eindig met albei spanne en toe met albei spanne te wen in die finaal.
Die eerstespan wedstryd was kliphard waar geen genade gegee of gevra is van albei spanne nie en waar elke speler gespeel het of hulle lewens daarvan afhang.
Dit was ’n tipiese finaal wat nie juis mooi rugby opgelewer het nie, maar dat dit hard was is geen twyfel nie.
Die Rhinos het drie drieë aangeteken teen Thaba se een, die skoppers van albei spanne het nie goed gedoen nie, veral Northam se skoppe wat almal mis was. Puntemakers aan Northam se kant met drieë was Tank Fortuin (2) en Steven Coetzee.
Vir Thaba slaag James Engelbrecht met ’n doel en strafskop en ’n drie deur Jaco.
Die Rhinos wen die wedstryd 15-10.
Die Rhinos se tweede span het net so hard gespeel teen ’n span wat die liga die vorige paar jaar oorheers het. Thaba het met alles wat hulle het gespeel want die Waterberg trofee is baie gesog en mens wil nie graag daarvan afstand doen as jy dit ’n paar keer gewen het nie.
Northam het die wedstryd in die doodsnikke gewen met ’n drie onder die pale deur die vlugvoetige vleuel Aikona. Die Rhinos wen die wedstryd 10-8.
Volgende week begin die Mining News rugby week op Northam Platinum se veld.
Die toernooi is van Woensdag 22 Julie tot Sondag 26 Julie en al die wedstryde begin in die middag. Daar word ses wedstryde per dag gespeel
Hope eet en drinkgoed sal te koop aangebied word en hope rugby vir die fynproewer.