Mad Mike en Mark ook by Bosveldfees
Elana Greyling
Tydens die Bosveldfees het die Lephalale Gemeenskapstoerisme vereniging vanjaar ‘n ekstra trekpleister by hul stalletjie gehad. Die Animal Planet maltrappe, Mad Mike Penman en Mark Tennant het praatjies gelewer, handtekeninge uitgedeel en met een en almal gesels.
Die twee avonturiers wil graag mense bewus maak van die natuur. Mike tree op as toergids in onder andere Botswana. Mark het ‘n maatskappy, Arts, Animals and Ancestry. Hy glo dis nodig om Suider Afrika op ‘n unieke manier te bemark. Hy het reeds projekte aangepak wat byvoorbeeld die historiese kleipotte naby die Tafelkoppe in Lephalale ondersoek, luiperdteelstasie, ‘Cradle of Mankind’ en het nog groot planne vir die omgewing.
Hulle het ook opgetree as beoordelaars van die fotokompetisie aangebied deur die Toerismevereniging en Foto First. Drie kategorie-wenners is aangekondig, Elisia Lee, Johannes Jooste en Surita Steenkamp. Hulle het elk ‘n A2-vergroting, onderteken deur Mad Mike & Mark ontvang. Die algehele wenner, Surita Steenkamp het ‘n Fuji kamera ter waarde van R 1 500 van Foto First ontvang. Volgens Marcel de Villiers, voorsitter van die GTV hoop hulle om die kompetisie ‘n instelling te maak.