Sport

IPS goed ondersteun

THABAZIMBI – Die Indiwiduele Punte Stableford (IPS), wat verlede Saterdag op Thabazimbi was redelik goed bygewoon. Daar het ook heelwat lede vroeg gespeel wat graag die rugby later die middag wou kyk. Dit bly maar vir baie lede ‘n probleem dat die kompetisie net vanaf twaalfuur oop is.  Van die lede sal ook graag in die kompetisie wil speel as hulle reeds vroeg kan afslaan en hulle telkaarte dan by die kroegman los.
Drie spelers het 39 punte elk aangeteken en op ‘n uittel is dit Nita Barnard, Nika Bense en Billy Pring wat wenners is met Sarel Marais met 38 vierde.
Die dames wat liga sou speel se wedstyde is uitgestel as gevolg van die Bosveld Fees wat op Ellisras aan die gang was.
Hierdie naweek, Vrydag en Saterdag, 17 en 18 Julie is dit die Slag van die Bosveld (Battle of the Bushveld) wat deur die dames aangebied word. Die wenner sal oor die twee dae bepaal word, maar spelers kan ook net enige een van die twee dae speel.
Alle gholfspelers voel seker so ‘n bietjie hartseer dat Retief Goosen weereens op die vierde dag van die Skotse Ope so gevou het. Dit is ongelukkig ‘n patroon wat deesdae redelik gereeld in sy spel te voorskyn kom. Ons hoop maar almal dat hy met die Britse Ope wat tans aan die gang is uit die groef kan breek. Dan wens ons ook dat Ernie Els ook weer ‘n slag iets kan doen. Ons moet maar duim vashou vir al ons Suid-Afrikaners wat in die belangrike kompetisie speel.