Grootste Landbouskou vir Thaba

THABAZIMBI – Die Thabazimbi Landbou en Nywerheidskou het ‘n aantal jare gelede alreeds sy halfeeu merk bereik en groei sedertdien met rasse skrede.
Volgens die skou-organiseerders is hulle onder heelwat druk om te verbeter op 2008 se rekordtal besoekers. Ten spyte van die ekonomiese resessie, beloof hul om hierdie jaar weer ‘n opwindende program aan te bied met groot kunstenaars soos Nicholis Louw, Izak Davel en plaaslike talent Rainier le Roux wat skougangers vir ‘n naweek sal laat vergeet van al hul sorge. Donderdagaand skop die skou af met die Mej en Mnr Thabazimbi kroning wat waargeneem word deur die bekende Izak Davel van Egoli-faam. Hy gaan die meisies oor die loopplank begelei en dan sal hy na die kroning ‘n volledige optrede met sy bekende sensuele danspassies doen. Tussenin elke kategorie tydens die skoonheidskompetisie, gaan ‘n plaaslike ontwerpster haar Matriekafskeidrokke vertoon.
Met die groot sukses van 2008 se Country Show, is daar besluit om vanjaar ‘n opvolg aan te bied met kunstenaars soos Clive Bruce, Lance James, Jody Wayne, Vangie Coker en Ken Mullen saam met plaaslike country talent Victor van Wyk en Jessie Lange. Dit begin reeds om 15:00 op 1 Augustus, sodat die ouer garde hierdie jaar die volledige vertoning kan geniet. Deurentyd sal daar ‘n heerlike kuiervuur vir die skougangers om die hoofverhoog wees waar almal die vertonings om die knus vuur kan dophou. Die terrein is so beplan dat alle uitstallers die verhoog kan waarneem vanwaar hulle stalletjies is sodat skougangers die beste van albei kan benut. Vanjaar het die organiseerders besluit om weereens te hou by hulle “Wille Bosveld” tema. Verlede jaar het almal groot pret gehad om volgens die tema aan te trek en die meeste stalletjies is ook volgens daardie tema gebou. Groot pryse word geborg vir die beste uitstallers en ‘n daaglikse prys vir die “beste geklede dame”, volgens die tema, is ook op die spel. Die organiseerders daag die dames uit om te wys hoe die “Plaasdame” van Thabazimbi kan uithang.
Die 120 “buite” stalletjies en 30 “binne” stalletjies is met groot sorg uitgekies en beloof om ‘n interessante verskeidenheid vir elke besoeker te bied. Die terrein sal bestaan uit die verskillende stalletjies en items soos sweepslaan, toutrek, Fear Factor, boogskiet, Perdeskou, mallemeule en perderitte. Besoekers kan heerlike etes vir die hele gesin koop en dan om die vuur geniet. Die teetuin word vanjaar deur die VLU bedryf terwyl die DLU die reuse biertuin sal behartig wat ook hul eie vermaak en ‘n grootskerm TV vir die groot rugby op 1 Augustus insluit.
Die sweepslaan kompetisie sal daagliks plaasvind met die groot finaal op Saterdag. Kinders kan deurentyd kom sweepslaan oefen in ‘n afgesperde veilige area, waar ‘n kundige hul sal touwys maak. En wat sal die skou wees sonder die oudergewoonte toutrekkompetisie. Belangstellendes kan die kantoor kontak vir verdere inligting.
Nog ‘n hoogtepunt is die Marakele Nasionale Park uitstalling wat met hul groot stalletjie publieke bewusmaking van hulle nuwe kampe, 4×4 roete en staproete ten doel het. Daar sal dan ook begeleide toere deurentyd plaasvind.
Die toegangskoste vir die skou is R40 per volwassenes en R30 per Laerskoolleerder asook Pensioenarisse. Vir enige inligting, kan die kantoor geskakel word by 014 777 1204.