Country-Saterdag by Landbouskou
THABAZIMBI – Die sukses van verlede jaar se Country Fees het beslis momentum aan die skou-organiseerders se planne gegee om daarop voort te bou met hierdie jaar se Countryprogram.
Selfs Juanita du Plessis se country program op Kyknet het bewys dat country nog lank nie dood is in Suid-Afrika nie, om die waarheid te sê is country nog steeds sterk met baie aanhangers en steeds besig om te groei, na aanleiding van die getal voete wat die Country Fees verlede jaar gelok het teen die besoekers aan die bekende Lianie May se optrede.
Verder kan Suid-Afrika se ikoon, Steve Hofmeyr bedank word met sy “Toeka” CD’s en DVD’s wat weer baie van SA se vergete kunstenaars op die kaart geplaas het.
Die feit dat Nicholis Louw slegs beskikbaar is op Vrydag 31 Julie, het genoodsaak dat die Country kunstenaars geskuif moes word na Saterdag, 1 Augustus, toe.
Dit het die resep bewerkstellig vir ‘n lekker Saterdag propvol musiek. Jessie Lange, met haar warm stem, vuur die program aan met die Baba- en Kleuter Fotokompetisie om 9:00. So tussen die prysuitdelings gaan Sekelbos ook die voete laat jeuk met hul optrede wat teen om en by 11:00 uur in aanvang neem. Hierna gaan die nuwe aspirerende sangers van ons omgewing die publiek tydens die Idols kompetisie vermaak. Belangstellendes kan gerus inskrywingsvorms by die skoukantoor of by Thaba Stereo afhaal. Inskrywings beloop slegs R50 en daar is baie groot pryse te wen, onder meer weer ‘n opwindende opnamekontrak deur TruSound Studios van Klerksdorp. Na die Idols is dit net Country. Die Country Fees begin reeds om 15:00 Saterdagmiddag met Victor van Wyk van Thaba Stereo. Victor van Wyk tree as gasheer vir ander Countrysterre op. Clive Bruce het verlede jaar so geniet dat hy gevra het om weer te kom na ons eie Country Fees. Clive het onlangs bewys hoe ‘n veelsydige musikant hy is met die vrystelling van twee CD’s waarvan een ‘n instrumentele album is met Clive op sy kitaar. Ander kunstenaars wat ons gaan vermaak is die immergroen Jody Wayne, die minnesanger Ken Mullan, die mooie Vangie Coker en dan “Big Daddy” Lance James. Lance James is seker die persoon wat die meeste gedoen het om Country in Suid-Afrika te vestig met onder andere sy “Keep It Country” Sondagaande op Springbok Radio en talle vertonings landwyd.
Die boere het besluit om vanjaar ook skouer aan die wiel te sit en te help om die skou ‘n groot sukses te maak. Distrik Landbou Unie gaan vanjaar die hekke behartig en ook sorg vir die droë kele in die biertuin. Alle rugby aanhangers kan die All Black/Wallaby toets op groot skerm gaan kyk in die biertuin in die Trollope saal.
Pappa en mamma hoef nie bekommerd te wees oor die klein woelwatertjies nie. Daar is meer as genoeg kindervermaak asook speelgroepies wat die kleintjies in toom sal hou en besig hou terwyl die ouers hul eie rigtings kan inslaan tydens die skou.
Daar is dus geen verskoning vir country en musiekliefhebbers nie. Volgens die organiseerders kan jy net jouself blameer indien jy vanjaar se skou vanaf 30 Julie tot 1 Augustus misloop. Kontak die Skoukantoor by 014 777-1204.