Unieke komedie in KunsteGrot

In Bure Oppie Bank spat die twak wanneer Toks en Flip mekaar beetkry en stry oor rugby, vroumense, skoonma’s en ‘n stukkende kar wat die een aan die ander verkoop het.
Die 7de Laan akteur Zane Meas (koerantredakteur Neville) en Binnelanders se veelsydige Neels van Jaarsveld (Dr Gideon) is die twee Bure oppie Bank wat mekaar so aanvat in hierdie splinternuwe komedie geskryf deur Saartjie Botha met regie deur die bekroonde regisseur Ilse van Hemert.
Bure oppie Bank het gehore laat skater en byna al die vertonings by Aardklop was uitverkoop. Die speelvak by die Centurion-teater was ewe suksesvol met mense wat diep uit hulle mae gelag het vir die twee bure se wel en weë. Met die afgelope Inniebos-fees was hulle net so gewild!
Bure Oppie Bank word op 29 Augustus om 19:00 in die KunsteGrot aangebied. Kaartjies kos R120 en kan bespreek word by Rita Volschenk op 083 7448559