Sport

Uittel beslis eerste vier plekke

THABAZIMBI – By Thabazimbi Gholfklub was dit Saterdag weereens die maandelikse slagspel. Met ‘n uittel op 68 is Jannie van Graan die wenner en Christo Rall tweede. Ook die derde en vierde plekke word op ‘n uittel op 71 beslis met Sarel Marais derde en Jeanette Rall vierde. Volgende Saterdag 11 Julie speel die dames weer liga. Die A-poel word op Mogol gespeel en die B-poel op Pietersburg. Ons wil die dames wat gaan speel sterkte toewens en weet dat hulle net die beste gaan gee. Vrydag en Saterdag van 17 en 18 Julie is dit die Slag van die Bosveld (Battle of the Bushveld). Dit gaan ‘n groot geleentheid wees en spelers moet gerus vroegtydig inskryf aangesien ‘n vol veld verwag word. Dan is die Indiwiduele Putjiespel en die Pare Putjiespel ook reeds aan die gang en die spelers wat daar betrokke is moet asseblief let op die sperdatums. Die gereelde Woensdag Pick’n Pay Sonsakker (Sundowner) met die Joelee gelukkige trekking is ook altyd ‘n populêre kompetisie. Met die kort dae nou in die winter word dit net oor ses putjies gespeel. Irma Schlebusch, ons klubbestuurder was vir ‘n operasie weg gewees maar ons is bly om haar weer springlewendig en vol vuur terug te sien. Baie welkom terug Irma. Na die inbraak so ‘n paar weke terug het van ons lede weer hulle meelewendheid getoon. Mark Lee het vir ons ‘n televisiestel geskenk en Nick Alberts borg die staal waarmee ons die klub in ‘n fort mee gaan verander. Baie dankie julle twee.