Haar kuns vertel haar verhaal
Hennie Pauw
LEEUPOORT – René Snyman, 33-jarige kunstenaar van Leeupoort is onlangs aangewys as die wenner van ‘n internasionale kompetisie vir kunstenaars. Haar skildery van Meiringspoort pryk op die buiteblad van die International Artist magazine # 67 June/July 2009.
Die kunswerk getiteld “He is my Rock and my Fortress – Meiringspoort” het eerste plek behaal in die ‘International Artist Competition for Seascapes, Rivers & Lakes’. Dis ‘n kunswerk van sowat 1,8m by 2,4m. Sy noem haarself ‘n realistiese impressionis.
Daar is tans ‘n solo-uitstalling van René se werk in Mooikloof Pretoria en sy bied ook tans ‘n werkswinkel aan vir hoërskoolleerders in Pretoria. Binne die volgende twee weke is René op pad na Amerika waar sy ‘n werkswinkel van die Amerikaanse kunstenaar, Daniel Gerhartz, gaan bywoon, ‘n jarelange droom wat nou verwesenlik word. Gerhartz was nog altyd ‘n kunstenaar wat sy bewonder het, en sy glo ook dat dit ‘n bestiering was wat dit vir haar moontlik maak om by hierdie jong Amerikaanse kunstenaar te leer.
Sy is ook ‘n groot bewonderaar van die werk van Adriaan Boshoff, bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar wat sowat twee jaar gelede oorlede is. Sy het hom ontmoet voordat hy oorlede is en in haar portefeulje is ‘n ongelooflike gesigskets van hierdie kunstenaar.
René laat ‘n onderhoudvoerder met die onwrikbare gevoel dat sy ‘n kunstenaar is in haar hele wese. Haar kunstenaarskap is nie slegs ‘n komponent van haar menswees nie, maar haar hele menswees is vervleg met haar kunstenaarskap.
Dit blyk dat René se lewe ‘n natuurlike progressie was van waar sy grootgeword het op ‘n plaas in die Kalahari naby Upington, ‘n kind met swak oë, waar sy deur ‘n rondgaande kunstenaar die eerste maal in St 3 gelei is om haar eerste treë as kunstenaar te gee.
Op Oranje Hoër Meisieskool in Bloemfontein het sy kuns geneem by Marion Barnard, nog steeds ‘n mentor en vriend en daarna het sy kuns studeer aan die Vrystaatse Technikon. Vir ‘n rukkie het sy kommersieel geskilder en op ‘n dag besluit om nie meer prentjies te maak nie, maar te begin kommunikeer deur haar werk. Sy het eers sowat vier jaar gelede begin skilder met verf. Voorheen het sy net geskets. Sy het haar sowat twee jaar gelede in Leeupoort gevestig, nadat sy in Johannesburg en Brits gewoon het.
Haar swak sig as kind, wat eers gediagnoseer is op 11 jaar, het ‘n groot rol gespeel in haar vorming as kunstenaar, vertel René. In die Kalahari het sy na aan die grond en gras geleef waar sy die lewe as’t ware van onder af beskou het, en alles van naby. Die res was te dof. Tot vandag toe is hierdie die hoek waaruit sy waarneem en weergee. Dinge moet bo haar uittoring. Haar sketse is “in your face”, sê sy. Daar is geen plek vir afstand en onbetrokkenheid wanneer haar kunswerke bestudeer word nie. “Intiem” is die een woord waarmee haar werk beskryf kan word.
Volgens René is die kunswerk self net die voertuig waarmee sy haar storie vertel. Dit gaan nie oor die prent nie, maar oor die boodskap, emosie en onderliggende waarde van ‘n kunswerk. Kuns is een van die mees kragtige mediums waardeur gekommunikeer kan word.
‘n Kunswerk kom uit die karakter en binneste van die kunstenaar en daarom moet dit eerlik en opreg wees, sonder kompromie. René sê sy mik nie daarna om ‘n “people and gallery pleaser” te wees nie. Sy wil verf wat in haar hart is. “I pray that my work will be a blessing to you and that it will touch and change your life. May it give you the gift of beauty and truth”. Soos sy sê: dis ‘n daad van onselfsugtigheid.
René sê sy voel geseënd en geëerd om op so ‘n jong ouderdom (33) ‘n kunstenaar te wees en te doen waarvoor sy roerend lief is.
“Dit is my ideaal om uit te styg en te groei. Ek probeer altyd die meesters en ander kunstenaars se werk in gedagte hou en hoop om só te verbeter. Elke kunswerk is ‘n leerproses en ‘n proses waardeur ek kan verbeter. Hoewel ek nie altyd daarin slaag nie, besef ek dat dit ‘n reis en proses is wat my waarskynlik vir die res van my lewe sal besig hou. Solank elkeen die beste doen elke dag met die kennis en vermoë wat die Vader ons gegee het. En om altyd getrou aan jouself te bly.”
René skilder veral mense (sy is baie lief vir mense), plaasdiere en naby-natuurtonele. Maar sy skilder niks wat nie met haar praat nie; die onderwerp moet haar as’t ware vra om geskilder te word. “Ek skilder wat in my hart is”!
Dit was ook so met die Meiringspoort-skildery wat die prys gewen het. Sy was op pad na Oudsthoorn eendag toe sy op die toneel, wat sy geskilder het, afkom. Die kontras van lig en skadu, die rykdom van kleur, die gevoelens van standvastigheid in die rots en die lewe wat deur die water geskep is, het tot haar gespreek. As ‘n kunstenaar, sê sy, soek sy altyd na die onderliggende boodskap in ‘n toneel. In hierdie toneel was die boodskap duidelik “Hy is my Rots en my Vesting, ek sal skuil in die skadu van die Allerhoogste” (Psalm 91:1-2)
Haar werk, sê sy, is die bewys van wat die Vader in en deur haar doen. Dit is ‘n toonvenster van Sy guns en welwillendheid in haar lewe en vir almal om te sien waar hierdie pad haar lei. Sy skilder nie om iemand te behaag nie, maar om ‘n storie te vertel en die elemente van lewe en intimiteit bloot te lê.