Water – skaars hulpbron – begin van die groot geveg?

Die voorsitter van die Ekonomiesekomitee van TLU SA Noord, Mnr. Steven Vermaak, het gesê dat daar baie meer agter die skerp aanval op kommersiële landbou deur die Nasionale Minister van Watersake steek as wat op die oog af sigbaar is. Water is ‘n skaars kommoditeit in Suid-Afrika en gaan nog skaarser word. Nie omdat daar minder water is nie, maar omdat daar meer mense is wat meer en meer water gebruik. In die lig van die feit dat Suid Afrika geen program in plek het om die groei in bevolking te beheer nie, en grense oopgooi sodat groot getalle mense van die res van Afrika Suid Afrika ongehinderd binnestroom, kan verwag word dat die geveg rondom skaars hulpbronne meer en meer op die voorgrond gaan tree. Dan is daar die onbeheerde uitbreiding van mynbou. Daar is reeds meer as 18 000 prospekteer en mynregte aansoeke wat vanaf 2004 ontvang is. Mynbou is bekend as groot verbruiker van water, vir die vernietigende impak op die omgewing en is veral berug vir die onomkeerbare verwoestende uitwerking op waterkwaliteit. Die groot aantal SEB projekte in mynbou kan die vraag laat ontstaan of daar ‘n verband is tussen die SEB projekte se behoefte aan water en die minister se uitsprake. Dit sal goed wees om ondersoek in te stel na die direkteure en SEB bevoordeeldes in mynbou. Dit is ook bekend, soos wat in die hoëveld bewys is, dat mynbou se effek op die omgewing onomkeerbaar en vernietigend is. Dat min myne die omgewing genoegsaam rehabiliteer en dat  geslagte mense na die sluiting van die myne, nog gesondheid- en omgewingsprobleme ondervind.
Vermaak het gevra of daar al bereken is wat die langtermyn impak en verdienste van landbou teenoor mynbou is. Wat is die langtermyn effek van landbou, toerisme en jag op die lewe van mense en die omgewing teenoor die kortsigtige (hoogstens 30 – 50 jaar) sogenaamde ‘wins’ van mynbou. Watter sektor investeer die meeste in die plattelandse ekonomie? Watter sektor is volhoubaar en watter nie?
Hy het voorts gesê dat daar voldoende wetgewing in plek is om die huidige watervoorraad te monitor en te beheer. Die vraag moet gevra word of die departement in staat is om hul mandaat doelmatige en voldoende uit te voer. Landbouers het nog nooit toegang geweier aan amptenare wat op ‘n redelike manier die TLU SA Plaasbesoek Protokol nagekom het nie. Daarmee saam het landbouers oor die jare verskeie waterbesparende maatreëls in plek gestel en kan daar met sekerheid gesê word dat baie minder water deur kommersiële landbou gebruik word om een kilogram voedsel en vesel te produseer as 20 jaar gelede.
Mnr Jan Viljoen, voorsitter van TLU Noord, het gesê dat Suid Afrika nie langer vyandig gesinde ministers kan bekostig wat, sonder enige bewyse, een van die grootste en mees stabielste en volhoubare sektore van die Suid Afrikaanse ekonomie ondermyn nie. Die vraag sal dringend gevra moet word of die minister ‘n verskuilde agenda het veral in die lig van die groot aantal waterlisensies wat noodgedwonge deur die nuwe en bestaande mynbouaktiwiteite vereis gaan word.