Thabazimbi se rioolprobleem brei uit
THABAZIMBI – ‘n Inwoner van Krombekstraat in Thabazimbi, se agterplaas was vir twee dae die afgelope week onder rioolwater nadat ‘n probleem Sondag 29 Junie ontstaan het. Teen Dinsdag was die verstopping wel verwyder en is daar chloor oor die geaffekteerde area gegooi.
Die riool het ‘n kors gevorm oor ‘n gedeelte van die Van Rooyens van Krombekstraat 7 se agterplaas. Die kors is afgeskep deur munisipale werkers en eenkant gegooi in ‘n hoop.
Volgens die inwoners van die erf, Erika en James van Rooyen, kon hulle nie enige water in hul rioolpyp aflaat nie, hetsy dit bad-, wasbak- of toiletwater is, aangesien enige afvoerwater in hul agterplaas uitgestoot word. Dit geld ook vir die afvoerwater van ander huise hoër op wat op dieselfde rioolnetwerk gekoppel is.
Een van hul honde, ‘n Dobermann Pincher, is Dinsdag behandel deur ‘n veearts nadat hy vermoedelik van die rioolwater ingekry het. “Dis mos onmoontlik om die hond weg te hou van die rioolwater”, sê Erika.
Volgens die Van Rooyens sukkel hulle reeds met ‘n verstopte rioolstelsel sedert hulle in die huis ingetrek het verlede jaar. In Augustus verlede jaar het hulle die eerste keer die munisipaliteit ingeroep om ‘n blokkasie te verwyder.
Telkens nadat die munisipaliteit die drein oopgemaak het, bly die drein vir sowat 3 tot vier weke oop, waarna dit telkens maar weer verstop. As gevolg van die feit dat hulle die laagste geleë is, kom die rioolnetwerk vir enkele uitbreidings hoër op, op hulle erf bymekaar.
Tegniese Dienste by die munisipaliteit ontken dat daar so gereeld as elke 3 tot 4 weke klagtes van die Van Rooyens ontvang is, aangesien daar nie so baie klagtes aangeteken is in die klagteboek nie. Dit is egter moontlik dat klagtes direk deur bystandpersoneel behartig word, sonder dat klagtes aangeteken word.
Die Van Rooyens het Die Kwêvoël meegedeel dat een van die Tegniese Dienste-personeellede Maandag aan hulle gesê het dat daar geen chloor beskikbaar is om op die riool-geaffekteerde gebied te gooi nie. Ook dat hulle sou moes wag tot die nuwe finansiële jaar, wat op 1 Julie 2009 begin, voordat chloor beskikbaar sou wees om die agterplaas van die Van Rooyens te ontsmet. Daar is egter teen Dinsdag, een dag vóór die begin van die nuwe finansiële jaar, chloor gegooi.
Volgens Erika van Rooyen is dit ‘n eienaardigheid om te sien wat alles te voorskyn kom wanneer die verstoppings verwyder word. Van sanitêre doekies, lappe, tot plastieksakke word gereeld uit die dreine gehaal. Daar is selfs een maal ‘n skilpadsproeier, wat vir ‘n blokkasie verantwoordelik was, uit die drein verwyder.
Erika meen dit is tyd dat inwoners opgevoed word oor wat alles by ‘n drein en toilet afgespoel mag word.