Sport

Swartklip KANSA Gholfdag

Die drie manswenners van die Sanlam-Kansa Gholfdag by Swartklip was (van links) Bennie Holtzhauzen (Afdeling A), Reon Kemp (Afdeling C) en Anton Jordaan (Afdeling B).
Die drie manswenners van die Sanlam-Kansa Gholfdag by Swartklip was (van links) Bennie Holtzhauzen (Afdeling A), Reon Kemp (Afdeling C) en Anton Jordaan (Afdeling B).

SWARTKLIP – Die laaste van vier gholfdae, aangebied deur Sanlam en plaaslike gholfklubs, het Saterdag 27 Junie by Swartklip Gholfbaan plaasgevind.
Bykans R83 000 is tydens die vier gholfdae vir KANSA ingesamel. Dié gholfdae is die afgelope maand en ‘n half gespeel op Rooiberg, Amandelbult, Thabazimbi en Swartklip. Fondse is ingesamel deur intekengelde, verkoop van drankies en kospakke en die opveil van wild.
Dié vier gholfdae het die plaaslike rondte verteenwoordig van ‘n toernooi waar daar tot nasionale vlak meegeding kan word. Die wenners van die vier plaaslike klubkompetisies, sowel as ander klubkompetisie-wenners in die streek, woon ‘n streekkompetisie by in Augustus. Die nasionale kompetisie vind by San Lameer plaas.
Die wenners van die Swartklip-KANSA gholfkompetisie was Bennie Holtzhauzen (Afdeling A), Anton Jordaan (Afdeling B) en Reon Kemp (Afdeling C). Die dameswenner was Mariska Vercueil.
KANSA bedank Sanlam, die borge en gholfspelers vir hul ruimhartige bydraes vir KANSA. Die wenners van die klubkompetisies word voorspoed toegewens met die volgende rondtes.