Nuwe hoof vir Frikkie Meyer

Colin Cambell (links voor), die nuwe hoof van HFM, is aangestel vanaf die derde kwartaal. By hom op die foto is sy vrou, Maria en agter staan sy dogter, Shirley en seun, Peter.
Colin Cambell (links voor), die nuwe hoof van HFM, is aangestel vanaf die derde kwartaal. By hom op die foto is sy vrou, Maria en agter staan sy dogter, Shirley en seun, Peter.

THABAZIMBI – Colin Campbell, tot onlangs skoolhoof by Laerskool Bosveld, is aangestel as die nuwe hoof by Hoërskool Frikkie Meyer, met ingang van die derde kwartaal.
Campbell (49) het in Brits en Louis Trichardt, waar hy in 1978 matrikuleer het, groot geword. Hy het sy studies (BA, HOD en B Hons Geskiedenis) aan die Universtiteit van Potchefstroom voltooi in 1983, voordat hy vir twee jaar ‘n luitenant in die  Weermag was. Hier, sê hy, het hy nogal baie van dissipline geleer!
In 1986 het hy begin skoolhou by Hoërskool Pietersburg, waar hy geskiedenisonderwyser was vir drie jaar. Gedurende hierdie tydperk het hy ‘n Jeugweerbaarheid- en Onderwysbestuurdiplomakursus by OKSA (Onderwyskollege van Suid-Afrika) gevolg.
In 1989 het hy ‘n departementshoofpos (sosiale wetenskappe) aanvaar by Hoërskool Ellisras. Hy was, in hierdie tyd, interne moderator van Gr 12 Geskiedenis in Limpopo en later hoofeksaminator van Geskiedenis in Limpopo. Hy was altesaam 14 jaar by Hoërskool Ellisras, tot einde 2002.
Vir die afgelope 6 en ‘n half jaar was hy skoolhoof by Laerskool Bosveld. Dis nie maklik om daar weg te gaan nie, s? Campbell, want dis moeilik om dít wat ‘n mens opgebou het, agter te laat. Maar, verseker hy, hy is nou reg vir ‘n nuwe uitdaging.
Hoewel hy glo die drie bene waarop ‘n skool staan, naamlik akademie, kultuur en sport, al drie baie belangrik is, glo hy tog dat die akademie effens swaarder weeg as die ander twee. Dit is egter belangrik dat die kinders wat op sport- en kultuurvlak presteer, geleentheid kry om hulle volle potensiaal in hierdie arenas te ontwikkel, sê hy.
Maar massadeelname is belangrik en almal moet deel voel van die skool. Die presteerders sal altyd presteer, maar alle leerders moet geleenthede gegee word om hul beste te doen en volle potensiaal te ontwikkel.
Dit is vir hom belangrik dat Hoërskool Frikkie Meyer, wat volgens hom definitief een van die beste skole in die provinsie is, sy eie standaarde handhaaf en nie gemeet word aan die standaarde van ander skole in die provinsie nie. Dit blyk dat hierdie nuwe hoof beplan om HFM tot nog hoër hoogtes te lei.
Hy is ‘n groot voorstander van goeie dissipline in ‘n skool, maar meen dis slegs moontlik indien leerders selfdissipline toepas. Daar moet dus by die leerders self die behoefte bestaan om goeie orde in die klas te hê, te leer en hulself voor te berei vir die lewe na skool. Die sanksie teen klasontwrigters moet dus deeltelik van die klasmaats kom, en nie net die onderwyser nie, verduidelik hy.
Daar is egter ‘n tyd en plek vir verskillende soorte dissipline in ‘n skool, outoritêr, sowel as demokraties. Maar die ondersteuning van ouers en die gemeenskap is baie belangrik in hierdie opsig. Hy glo ook dat die opvoedingstelsel ruimte laat vir die toepassing van voldoende dissipline.
Hy hoop dat hy genoeg kans gegee sal word om sy stempel af te druk op Frikkie Meyer. Langtermyndoelwitte neem soms tot etlike jare om infasseer te word. Gelukkig kom hy taamlik “vars” na Thabazimbi, sê hy, want hy ken nie veel mense nie – iets wat hy as ‘n voordeel beskou.
Hy glo ook, dat “met die Here se wil, kan alles regkom. As ons terugbeweeg na Bybelse waardes, kan ons weer by regte dinge uitkom,” sê hy.
Colin Campbell is die pa van twee kinders. Hy het ‘n dogter Shirley (16 jaar), tans in Gr 10, en ‘n seun, Peter (20 jaar) wat besig is met sy derde jaar regte by die Noordwes Universiteit. Colin se vrou, Maria is Engelse departementshoof by Hoërskool Ellisras en sal vir eers op Lephalale bly totdat haar matrieks hul jaar voltooi het.
Colin sê sy hoofbelangstellings wentel maar om die skool, maar hy speel bietjie gholf en hou van visvang. Hy is ook betrokke in die gemeenskap en sal waarskynlik gou ‘n bekende gesig in Thabazimbi wees.