General

50 komberse aan bejaardes

De Wet Prins van Aspen, Ds Albert Boshoff, voorsitter van die Bosveld Bejaarde Trust, Danie van Niekerk van Medhof Apteek, Dr Thinus Benade en Marie Steenekamp.
De Wet Prins van Aspen, Ds Albert Boshoff, voorsitter van die Bosveld Bejaarde Trust, Danie van Niekerk van Medhof Apteek, Dr Thinus Benade en Marie Steenekamp.

THABAZIMBI – Medhof Apteek en Aspen het verlede week hande gevat en uitgereik na Thabazimbi se bejaardes met die uitdeel van 50 komberse.
Mnr Danie van Niekerk, eienaar van Medhof Apteek, het hierdie wonderlike gebeurtenis geïnisieer.  Medhof Apteek ploeg graag so terug in die gemeenskap. Hy het saam met Aspen, Farmaseutiese Maatskappy, hande gevat en R15 000 se komberse geskenk aan die bejaardes. Vyftig pragtige komberse is uitgedeel aan Tambotie en Bosveldoord se bejaardes. Ds Albert Boshoff, voorsitter van die Bosveld Bejaarde Trust, Dr Thinus Benade en Marie Steenekamp, lede van die Trust het die komberse in ontvangs geneem en aan die bejaardes oorhandig op Vrydag 26 Junie te Bosveldoord. Saam met dit het Alet Prinsloo van Thaba Spar ook aan elke bejaarde sjokolade geskenk om hulle warm te maak teen die ernstige bitter koue.
Ds Albert en Marie Steenekamp spreek hul dank uit teenoor Danie van Medhof Apteek en De Wet Prins van Aspen. Dit was ‘n wonderlike gebaar en word baie waardeer deur elke bejaarde wat ‘n kombers ontvang het.
Die funksie is afgesluit met ‘n pragtige solo, Sprei jou vlerke, gesing deur Debbie Viljoen van Thaba Stereo.