Vuurwapenwet – intimidasie teen wetsgehoorsame burgers
TLU SA Noord sê in ‘n mediavrystelling dat daar letterlik ‘n ontploffing van dagvaardigings is wat deur die SAPD uitgereik word en selfs enkele arrestasies het in die Noordstreek voorgekom nadat aansoekers nie tydig volgens hul verjaarsdag kwartale aansoek gedoen het om hernuwing van hul bestaande, wettige vuurwapenlisensies nie.
Volgens mnr Japie Spanio, voorsitter van die Veiligheidskomitee van TLU SA Noord, is dit belangrik om te onthou dat hier gepraat word van persone wat in besit is van ‘n wettige vuurwapenlisensie. Dit is nie kriminele wat onwettig vuurwapens gesteel het of besit nie. Dit is wetsgehoorsame burgers wat deur ‘n wet gekriminaliseer word. Daardie persone gaan op 1 Julie 2009 as kriminele gebrandmerk word SONDER dat daardie persone enigsins ‘n kriminele daad gepleeg het.
Spanio het gesê dat die vuurwapen eienaars waarvan hier gepraat word, nie die vuurwapens gesteel het nie, maar dit wettig gekoop en gelisensieer het. Elkeen van die eienaars besit ‘n wettige vuurwapenlisensie wat deur die huidige regering in ‘n administratiewe proses van kruipende onteiening van wettige eienaars vervreem word. Die feit dat die SAPD weier om eienaars te vergoed vir wapens wat vernietig is of vervreem word deur die wet, kom neer op ‘n gruwelike skending van die bepalings in die handves van Menseregte in Hoofstuk 2 van die Grondwet. Dit is blatante onteiening sonder vergoeding en ‘n bevestiging van die feit dat politici en amptenary hulself verhewe ag bo gewone landsburgers deur wette daar te stel wat nie die belange van die burgery dien of die burgers se besware oor die implementering daarvan wil aanhoor nie.
Die jagbedryf is ‘n groot bron van werkskepping in die Limpopo provinsie en dit bring baie kapitaal van buite die grense in. Waarom al die onnodige inkorting van bedrywighede om ‘n bedryf te kniehalter wat soveel ekonomiese aktiwiteite tot gevolg het en sodoende ‘n groot positiewe ekonomiese impak op die plattelandse gebiede het?
Spanio het gevra of die SAPD lede, die Minister van Veiligheid, Direkteur Bothma of die regering ook gekriminaliseer gaan word omdat sommige vuurwapeneienaars reeds drie jaar gelede aansoek gedoen het vir die sogenaamde hernuwing van wettige vuurwapenlisensies, maar nog steeds niks van die SAPD gehoor het nie. Spanio het verder gesê dat mense, wat in vrede en harmonie wil leef en nog nooit misdaad gepleeg het nie, bloot deur die handtekening van ’n minister en die staatspresident na 1 Julie 2009 kriminele word en in die tronk kan beland omdat hul eiendom besit wat hulle wettig bekom het.
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU Noord het gesê die wet en veral die huidige optrede van sekere SAPD lede is kwaadwillig en skend basiese menseregte. Hy het gesê dat TLU SA Noord besig is met aksies om lede van georganiseerde landbou asook ander lede van die publiek te beskerm teen kwaadwillige en onregmatige optrede van die SAPD.