Visrivier Canyon, geen “Walk in the Park”

Die groepie stappers wat die Visrivier Canyon aangedurf het, voor vlnr: Jitske, Natasha en Bokkie Bronkhorst van Thabazimbi. Agter vlnr: Jakob, Rita, Piet, Marita, Lizette en Jan.
Die groepie stappers wat die Visrivier Canyon aangedurf het, voor vlnr: Jitske, Natasha en Bokkie Bronkhorst van Thabazimbi. Agter vlnr: Jakob, Rita, Piet, Marita, Lizette en Jan.

NAMIBIË – Vir menige stappers is die Visrivier Canyon een van die grotes, ‘n staptog wat net eenvoudig moet aangedurf word. Maar soos dié groepie stappers wat aan die einde van Mei die pragtige Visrivier Canyon-staproete aangepak het, waarsku, dis nie ‘n stappie in die parkie nie. Die roete strek vanaf die Hoofuitkykpunt by Hobas tot by Ai-Ais al met die rivierloop saam.
Die stappers, Jitske, Bokkie, Natasha, Jakob, Piet, Rita, Marita, Lizette en Jan het op Sondag 24 Mei by die Visrivier aangekom en beplan om teen 14:00 die 520 meter af te sak tot by die rivier. Die sak is regaf wat jou  knieë redelik moeg maak. Volgens die stappers slaan die uitsig en natuurskoon dadelik jou asem weg, maar op daardie tydstip kan mens nie stilstaan en dit waardeer nie, jou konsentrasie is dan ten volle waar die volgende tree gaan wees, die verkeerde besluit en meer as net jou bene sal gebreek wees. Kettings is op die steilste gedeeltes aangebring waaraan vasgehou kan word.
Die stappers was vroeg onder in die Canyon en kon heerlik swem en mekaar leer ken. Die eerste twee dae gaan gewoonlik die stadigste aangesien die sogenaamde “bouler hopping” gedoen word waar slegs 6 tot 8 kilometer per dag gevorder word.
Daar was besonder baie water in die canyon hierdie jaar en daarmee saam, baie swempoele wat natuurlik handig te pas gekom het om die stappers net weer te verfris na ‘n hele dag se stap. Een van die wysste besluite was die tente wat saamgeneem is, siende dat daar heelwat skerpioene te siene was. Ook heelwat diere soos koedoes, wildeperde, verskeie voëlsoorte en ander wat liefs nie deur die stappers gesien wou word nie, is bespeur. Dit raak in die aand vroeg donker en gevolglik moet voor 18:00 kamp opgeslaan word om te verseker dat jy nie deur die donker oorval word nie.
Die stappers moedig enigiemand aan wat wil ontsnap van die besige stadslewe om ten minste een keer in hul lewe die Visrivier Canyon te gaan stap waar jy weer jou kop kan skoonmaak en nuwe durf vir die lewe kan kry. Die roete dek sowat 85km indien voetslaners van die kortpaaie gebruik maak en neem gewoonlik 4 tot 5 dae om te voltooi. Vanweë buitengewone temperature en onverwagte oorstromings gedurende die somer word staptogte slegs tussen 1 Mei en 31 Augustus toegelaat. Vir diegene wat saam met hierdie groep geesdriftige stappers die volgende Visrivier Canyon wil meemaak, kan Jitske gekontak word by 082 357 5707. Jitske reël ook ander staproetes onder andere na die Drakensberge.