Northam Plats val vas teen Thaba
THABAZIMBI – Northam Plats se rugbyspanne het Vrydagaand 19 Junie, hom vasgeloop teen ‘n begeesterde Thaba, met Thaba wat die sogenaamde Goliat verslaan.
Die gemoedere was hoog tussen die toeskouers van albei spanne toe die Eerstespanne op die veld draf en kort voor lank het die Rhinos besef dat hulle nog nie die liga gewen het nie, met Helgard Muller wat die lynstane oordonder het en losvoorspeler spel van Jaco Slebush en David Schoeman, wat mekaar soos ‘n tweeling aanvul. Koos Baard het gedomineer met agressiewe plettervatte en skrumwerk en het selfs vasskoppe gehak.
Albei spanne was bereid om met die bal te hardloop en die eerste helfte moes Thaba met mag en mening walgooi as die Rhinos aan die hardloop gegaan het.
Thaba het weereens bewys dat hulle nie maklik op hulle tuisveld geklop word nie en alhoewel die Rhinos van elke hoek van die veld aangeval het was daar net nie deurkom kans nie. Thaba het halftyd met 11- 6 voorgeloop. Die spanne het goed teen mekaar opgeweeg en albei spanne se verdediging was uit die boeke uit
Northam het op ’n stadium met 14-11 voorgeloop.
Northam het heelwat uitblinkers gehad en die naam wat voor aan die lys is, is die van Flip de Kock wat met sy skopskoen die telbord aan die rol gehou het.
Nadat Flip beseer is het dit gelyk of Northam bietjie swaar gekry het voor maar nog steeds het Mark Humphries en Rory Cresswell nie gaan lê nie. Elke voorspeler het sy lyf op die spel gesit en van die duikslae het geklap soos klappers.
Agterlangs het die twee jong senters JP Jacobs en Sinjyn Colchester, nie ’n duim teruggestaan vir hulle meer ervare teenstanders nie. Groot Bennie Stander het ook ’n reuse wedstryd gespeel en is beloon met ’n drie in die tweede helfte. Die skopvoet van Thaba se Jaco Slebush het die telbord aan die rol gehou en Thaba wen die wedstryd 17-14. Puntemakers vir die Eerstespan was Gerhard Jacobs met 1 drie en Jaco Slebush met 5 strafskoppe.
Thaba se Tweedespan het Northam se Tweedespan ore aangesit en dit nadat dit nie gelyk het of daar ’n span is wat die tweedes die seisoen sou wen nie.
Wat kommerwekkend is vir Northam is dat Thaba hulle voorlangs gewen het om die losbal en twee drieë gedruk het waarop Northam met slegs twee strafskoppe kon antwoord. Thaba het voorlangs so oorheers om die losbal dat dit moeilik is om uitblinkers aan Northam se kant te gee. Thabazimbi se tweedespan voorspelers het oorheers met manne soos Piet Potgieter en Blou van Rensburg wat in die skrums uitgeblink het en op die los fasette kon die Rhinos nie bykom met manne soos Ian Meintjies en Vincent de Wet wat die bal van Rhinos af gehou het nie. Voor omdraaityd was Thabazimbi 10-3 voor en het die agterlyn met Mandie Lawu aan die voorpunt, die manne in blou en rooi uniforms sat geduik. Na die eerste helfte het Eric Pistorius en die reserwe bank hulle by die partytjie aangesluit en maklik met 17-6 gewen. Die tweedespan se drieë is deur Mandi Lawu en Philip, die kragtige slot, gedruk. Ian Meintjies het pale toe geskop.
Hierdie Vrydag speel Northam weg teen Union en Thaba speel weg teen Mogol. Volgende week word die semi finale gespeel op die span wat boaan die liga sal eindig.
Huidig lyk die ligapunte as volg:
Northam 34
Thaba 32
Mogol 29
Union 26